Tuesday 14 July 2020

God verander nie


Hebr. 13:8

8 Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.



Mense is somtyds soos verkleurmannetjies. Jy weet nie hoe jy dit met hulle het nie. Jy ken mos die bekende spreekwoorde – sy oggend en aandpraatjies stem nie ooreen nie. Dit is ʼn hartseer werklikheid dat mense in ʼn hoe mate onbetroubaar geword het. Mense se woord is nie meer hul eer nie.

Ek klink dalk effens swartgallig maar dink nie ek is ver verkeerd nie. Die manier waarop naïewe mense ingedoen en beroof word deur geldmaakskemas is een voorbeeld daarvan. Die VBS bank is ʼn eietydse voorbeeld daarvan. Toegegee, sommige mense is in hegtenis geneem maar of die reg regtig sy loop gaan neem sal ons nog moet sien. Ook wat dit betref is ons al meer dikwels teleurgestel.

Die Here is gans anders, loof sy Naam. As Hy iets gesê het, doen Hy dit. Wat Hy onderneem het voer Hy uit.
Is daar ʼn enkel mense wat God onbetroubaar kan bewys, inteendeel. Ja, toegegee somtyds wankel die geloof.
Somtyds vra jy indringende vrae.

Somtyds lyk dit of die Here vergeet het.

Dit is egter niks anders as die menslike verwysingsraamnwerk waarmee ons worstel nie. Ons projekteer ons ervaring op God, die Heilige. As dinge nie uitwerk soos jy jou dit voorgestel het nie lê die fout nie by God nie. Jou interpretasie, verwagting, verwysingsraamwerk of ongeloof kan as redes aangevoer word. Nie sy getrouheid nie.
Hy is elke dag dieselfde en dit is waar tot in alle ewigheid. Hy is nie onderworpe aan emosionele skommeling nie. Hy het nie afdae nie. Sy bioritmes loop nie deurmekaar nie. Hy staan nie met die versekerde voet uit die bed uit op nie. Hy is nie temperamenteel, beïnvloedbaar of manipuleerbaar nie.

Hy is standhoudend, standvastig en rotsvas.

Gister, die Bybel is die getuienis van gister. Daar is ook die gisters in my lewe. Ek blaai deur my “gister boek” en soek na tekens dat Hy ontrou en veranderlik is maar vind dit nie.

Vandag, hier en nou, relevant en betrokke, steeds getrou en betroubaar.
More, die toekoms, vir my onbekend maar vir Hom soos ʼn oop boek.

Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment