Wednesday 3 June 2020

Pinkster troos.

Pinkster troos.

Die Heilige Gees word by verskillende name en titels aan ons voorgestel.
 Ons ken Hom as die Advokaat, Helper, Leidsman en Geneesheer. Hy is ook die Trooster, die Parakleet.
Dit is altyd bemoedigend dat die Here ons deur sy Gees troos en wil troos in tye van droefheid, hartseer en lyding.











Die teologie wat daarop aanspraak maak dat dit altyd goed en wel gaan met ʼn kind van die Here, is verdag.
Ek vind dit nie in die Bybel nie. Dan sou ons nie op die vertroosting van die Heilige Gees aangewese gewees 
het nie.

Jesus het egter geweet dat ons troos gaan nodig hê in hierdie wêreld. Trouens, die hele Bybel getuig 
van die seer wat mense somtyds beleef.

Jesus het aan eie lyf die smartlike weg bewandel. Sy lewe was nie rooskleurig en sonder uitdagings nie.
As daar dan Een was wat die geheim van ʼn volmaak gelukkige en nie getraumatiseerde lewe moes ken en
beleef was dit tog sekerlik die Here Jesus gewees.


Nee, van die begin af was dit ʼn opdraande stryd. Sy bediening met name is gekenmerk deur agterdog,
vervolging, naambeswaddering en verdagmakery. Dit het alles aan ʼn nuwe kruishout gekulmineer. 
Jesus het ons ook gewaarsku dat ons geroep word om Hom in sy lyding te volg. As hulle so maak 
met die Leidsman sal hulle ook so maak met sy volgelinge. In die wêreld sal julle swaarkry het Jesus 
gesê maar verseker dat Hy die wêreld oorwin het.

Sy versoeningswerk is tog bevestig in die opstanding uit die dood. Die Heilige Gees troos uitnemend. 
Hy vee al die trane af alhoewel dit steeds voorlopig is.

Een maal sal ons in die Koninkryk wat dan in sy volheid deurgebreek het die finale en omvattende 
verlossing beleef wat Hy beloof het.

Die Heilige Gees is immers die deposito, so ook sy werk in en deur ons. Dit is die eerste paaiement, 
die res word uitbetaal in die teenwoordigheid van die Groot Koning in die hiernamaals. Intussen gee ons 
nie moed op nie. Ons is kinders van die lig en mense van hoop. Ons staan altyd weer en weer op. Ons 
sak somtyds desperaat, hartseer en gebroke  op ons knieë neer maar staan gesterk, bemagtig, vertroos 
en vernuwe daarvan op.

Covid 19 konfronteer ons op geen onseker wyse met ons gebrokenheid nie. Die wag raak lank en swaar. 
Daar is mense wat vereensaam en vergeet word. Sommige sterf alleen omdat geen besoekers toegelaat 
word nie. Ander loop in vrees dat hulle die virus kan opdoen.

Duisende wonder waar die volgende bord kos vandaan gaan kom. Ander wonder of die liefdesdaad wat 
hulle bewys hul lewe van hul gaan eis. Sommige huil op ʼn afstand by ʼn graf as hulle toegelaat word. 
Baie se besighede is na die maan. ʼn Veelheid van scenario’s, almal gebroke.

Die Heilige Gees, die Trooster Gees, die Pinkster Trooster is by en met ons. Hy sal nooit van ons af 
weggaan nie het Jesus belowe. Hy herinner ons aan die volmaakte offer en oorwinning wat Jesus behaal het. 
Immers, die graf is leeg.

Laat die Gees toe om jou nou te omarm en te troos.
Hy doen dit graag.

Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster


No comments:

Post a Comment