Thursday 4 June 2020

Nuuskommentaar - 4 Junie 2020

Te midde van heelwat verwarring oor wie wanneer skooltoe gaan al dan nie het nog ʼn week in die interessante Covid-19 tydvak verbygegaan. ʼn Mens is uiteraard baie bewus en besorg oor die toename in infeksies en gepaardgaande sterftes. Soos in die verlede gesê gaan ons harte uit na naasbestaandes van mense wat op die een of ander wyse deur die virus geaffekteer is. Ons dink ook baie spesiaal aan verskeie groeperinge van mense wat somtyds te midde van fel kritiek probeer om Suid Afrika en sy inwoners te beveilig. Mag die Here se bewarende Hand op hulle wees.



Die onrustigheid met betrekking tot skole se heropening kan ʼn mens begryp. Sommige skole is in die bevoorregte posisie dat onderrig gemaklik kan voortgaan gegewe die maatreëls wat in plek moet wees. Ander egter het nie eers die luuksheid van lopende water en sanitasie nie. Vervoer is ʼn groot probleem en die veiligheid van leerders is in gedrang. Ek gesels met ene Johan Meiring wat kinders op die grens met Lesotho versorg. Hul organisasie “Touch me Lord” voed die bykans 600 kinders daagliks en is afhanklik van die publiek se steun omdat baie van die kinders nie geboorte sertifikate het nie. Dit beteken dat hulle ook nie kwalifiseer vir staatshulp nie, effektief sonder identiteit leef. Die organisasie het dringend gevra vir 300 komberse om die weerloses te versorg.

Die ongelykheid in Suid Afrika is ʼn bron van bekommernis. Mens is baie dankbaar vir mense soos Johan wat alles in die stryd werp om die afhanklike kinders te ondersteun. Wat verstaan ʼn kind tog van swaarkry, ongelykheid en armoede? Hulle het tog geen aandeel daarin nie. Mag die Here ons help.

Die Hooggeregshof beslis verder dat die Grondwetlike regte van burgers deur sinnelose regulasies beperk word. Die owerheid het 14 dae om sake te heroorweeg. Dit blyk uit gesprekke dat die owerheid gaan appelleer. Dit is so moeilik om die regte van mense met hul verantwoordelikhede te balanseer. Gebeur dit dat die virus die land in chaos dompel word die owerheid verkwalik. Gebeur dit nie in die mate waarin tans voorsien word nie, het die regering oor reageer. Na wie moet jy luister is inderdaad ʼn belangrike vraag?

Dan weer is daar net te veel onsinnige reëlings in plek wat die vryhede van mense onnodig inperk.

Mense kan die erediens besoek maar nie familie en vriende nie.

Jy mag werk toe gaan maar nie sosialiseer nie.

Jy mag kerk toe maar nie sing nie.

Jy mag etes bestel maar nie daarvoor aansit nie.

Rook ontstel mense baie. Uiteraard is rook nadelig vir ʼn mens se gesondheid maar ek is nie seker dat jy mense se keuses op hierdie wyse kan moniteer nie. As ʼn mens konsekwent wil wees is daar seker ander dinge wat ewe nadelig is vir ʼn mens se gesondheid en jou kwesbaar maak.

Daarmee saam ontstel die wyse waarop mense ʼn dag nadat alkohol verkoop word hulself aan misdaad skuldig gemaak het. Vroue en kinders word in die proses verniel. Dit strek ons nie tot eer nie, om die minste te sê.

Die moeilike vraag is inderdaad waarmee die Here in ons dag besig is? Dalk wil Hy dat ons ʼn slag in die spieël van sy Woord kyk en sien wat van ons geword het. Is ons prioriteite nog reg en is ons besig met die opdrag om die Koninkryk te sien kom.

Die #Icannotbreathe, ook bekend as #blacklivesmatter wat hom tans in Die VSA afspeel, is hartseer en tragies. Die video snit wat ek op TV gesien het waar ʼn polisieman op die nek van George Floyd staan is ontstellend en krimineel.

Nog meer ontstellend is die reaksie van die Amerikaanse president op die gebeure. Bybel in die hand belowe hy om die ongelukkigheid met brute krag te onderdruk. Die vernietiging van eiendom is uiteraard ontoelaatbaar en ongevraagd. Derhalwe verstaan ʼn mens dat daar in sterk taal waarskuwings in die verband uitgespreek sal word. Om egter ʼn uiters sensitiewe saak soos hierdie op ʼn nog meer onsimpatieke wyse te probeer smoor, is hartseer.

“I cannot breathe” is vir my relevant vir verskeie redes.

Uiteraard omdat in ons eie land ongeregtigheid nie ʼn onbekende aangeleentheid is nie. Gedurende die hoogty van Covid-19 het ons ons eie voorbeelde van brutaliteit en onmenslike optrede gehad. In Alexandra is Collins Khosa hardhandig behandel wat aanleiding gegee het tot sy dood. Daar is ander voorbeelde.

Inderdaad, “black lives matter”, “all lives matter”, maar iewers vra iemand waarom ons in Suid Afrika nie ook met baie meer passie van ons ontsteltenis getuig en met die mense wat onregverdig behandel word identifiseer in hul nood nie.

“I cannot breathe” is ook die wyse waarop Covid-19 uitspeel wat tot gevolg het dat ʼn mens aan ʼn respirator gekoppel moet word. Dit moet uiters ontstellend wees om so siek te wees. Juis daarom moet ons alles in die stryd werp om die verdere verspreiding van die virus tee te werk. Maar die owerheid se optrede moet nie van onbeholpenheid en irrasionaliteit getuig soos wat tans in die hooggeregshof uitspraak beliggaam word nie. Die wyse waarop met mense se bewegingsvryheid en keusevryheid gehandel is en selfs steeds word is burokraties en waarskynlik ongrondwetlik.

As Christene het ons ook die Bybel as ons primêre grondwet. Menswaardigheid is op elke bladsy van die Bybel ingeskryf. Dit is juis waarom Jesus gekom het nl. om menswaardigheid te herstel en ʼn nuwe orde vir die handhawing van reg en geregtigheid daar te stel.


“I cannot breathe” is vir my ook ʼn metafoor wat iets sê van die ontstellende armoede in ons land. Elke mede Suid-Afrikaner behoort te identifiseer met mense wat worstel om te oorleef. Die vraag naas die een waar die owerheid is, is inderdaad waar geloofsgemeenskappe, die kerk, Christene hulself bevind. Kospakkies uitdeel is verdienstelik, maar ons taak strek veel verder.

Ek wonder of luisteraars die lied wat op my gedagtes is ken. Dit is ʼn besondere lied wat getuig van liefde en omgee en naasbestaan.

Sonder asem kan ʼn mens nie bestaan nie.

Sonder die ander wat asemhaal kan ons eweneens nie bestaan nie.

Ons het mekaar broodnodig.

All I need is the air that I breathe and to love you
All I need is the air that I breathe yes to love you
All I need is the air that I breathe you're all I want
The Hollies

Groete

No comments:

Post a Comment