Monday 22 June 2020

Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling

Fil.1:3-11

9 Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling,
10 sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom.

Paulus maak geen geheim daarvan dat die gemeente in Filippi hom na aan die hart lê nie. Hy lewer ʼn mooi getuienis aangaande hulle veral daarin dat hulle hom in sy gevangenisskap terwille van die Waarheid nie vergeet het nie, maar ondersteun. Hulle is medewerkers in die koms van die Godsryk en vir Paulus ʼn bron van blydskap.
Deel van sy gebed is dat hulle sal toeneem in begrip en ʼn fyn aanvoeling, sodat hulle kan onderskei waarop dit werklik aankom.



Die kerk het ʼn moeilike en belangrike taak in die wêreld. Om ligdraers te wees midde soveel duisternis en verderf, vra ʼn fyn ingesteldheid. Die vraag is, wat is belangrik en wat nie, ook wat is nou belangrik en selfs belangriker as ander dinge.

As ek daaraan dink dat die kerk en ek verwys na die kerk in die algemeen tot voor Covid-19 soveel tyd en energie spandeer het om hulle oor ander se seksualiteit uit te spreek. Dit is maar ʼn eietydse voorbeeld van dinge waarmee die kerk somtyds besig raak.

Moet vroue hoede dra of nie?
Moet manne pakke dra of nie?
Mag mense saamwoon of nie?
Is seks voor die huwelik verkeerd of nie?

Ek wil nie vir ʼn oomblik betoog dat die kerk nie daaroor standpunt mag inneem nie. Gegee die realiteit dat nagenoeg 35000 mense tans geïnfekteer is en die sterftesyfer by ʼn 800 mense draai, lê die gesprek op die periferie.

Honderde duisende mense verkeer in desperate armoede, kinders moet terug skole toe waar daar geen infrastruktuur is nie, rye wat deur letterlik duisende mense gevorm word wag vir ʼn kospakkie om hulle die week deur te sien.

Die winter lê voor. Soveel mense slaap koud en het geen heenkome nie.
Daarbenewens is daar talle mense wat in wanhoop lewe, vereensaam is en wonder of die lewe die moeite werd is.

Ander gee hulself aan drank oor soos die vrou op die TV die ander aand wat in die ry staan om drank te koop want in haar eie woorde het sy nie ʼn man nie en is eensaam. Alkohol laat haar vergeet. Vanaand gaan sy drink.
Is daar enige regverdiging daarvoor dat mense in Christelike Suid Afrika met sy duisende geloofsgemeenskappe so vereensaam is dat sy haar aan drank oorgee?

Paulus se gebed is relevant.

Mag Covid-19 ons vrymaak van tydsverkwisting en sinlose ellelange vergaderinge wat mense uitsluit.
Laat God die oortuigingswerk doen.

Bou julle, ons maar net aan die Koninkryk soos Hy ons beveel het.

Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment