Tuesday 23 June 2020

God se hart.


1 Tim.2:1-3

Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons 'n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid.
So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser, 4  wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.



Wat is op God se hart, mag jy vra? Paulus maak dit duidelik. Hy wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.

Alle mense.

Ongekwalifiseerd en inklusief.

Die kerk se werk is duidelik geartikuleer. Mense moet by Jesus uitkom. Dit is ook waarmee Paulus homself besig hou, sê hy. Hy is prediker, apostel en leraar wat die heidennasies moet onderrig in die boodskap van die geloof en waarheid. Hy beywer homself daarvoor. Die spoor wat ʼn mens volg wanneer jy sy reise volg deur die destyds bekende wêreld onderstreep die feit onteenseglik.

Die owerheid het eweneens ʼn plig en verantwoordelikheid. Die owerheid is nie die kerk nie en moenie die kerk se werk doen nie. Die owerheid moet ʼn atmosfeer en konteks skep en in stand hou waarbinne die kerk, ook ander samelewingsverbande, met die werk kan voortgaan. Hulle moet ʼn wêreld help skep waar mense in rustigheid en veiligheid kan woon en werk. Dit is nie die kerk se plig nie. Die kerk het sy werk, so ook die owerheid. Om dit daar te stel moet daar met smeking, voorbidding en danksegging gebid word vir alle mense, in besonder die owerheid.

Ek wonder stellig.

Smeking vir die owerheid dat hulle die regte strategieë sal volg en in hul Godgegewe doel mag slaag?
Voorbidding vir die owerheid dat hulle hul plek in God se plan vir die wêreld sal ken en volstaan?
Danksegging vir die owerheid, vir dit wat wel gedoen word?

Ek verstout my om te sê dat sommige Christene vir die regering mag intree maar om God vir die owerheid te dank, is darem ʼn bietjie ver gevat.

Hoe lyk dit met jou saam?

Is ons besig met ons taak as kerk en bid ons vir die owerheid dat hy sy taal stylvol sal uitvoer.
Ons gaan rekenskap gee van hoe ons besig was met ons opdrag.

Die owerheid eweneens.


Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment