Friday 22 May 2020

Simbole van genade - Tegnologie

JAKOBUS 1:17

Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo. Dit kom van die Vader wat die hemelligte geskep het, maar wat self nie soos hulle verander of verduister nie.



Grendeltyd het ʼn mens nuut bewus gemaak van die wonderlike moontlikhede wat sosiale media bied. Soos julle kuier ons gereeld met ons kinders veral op die verskillende platforms wat beskikbaar is. Dit is wonderlik dat ʼn mens met die ruk van ʼn “knoppie” jou geliefdes kan sien en geniet.

Die boodskappe van bemoediging wat heen en weer gestuur word is kosbaar.

Ons kon gedurende die afgelope bykans sestig dae eredienste bywoon, Bybelstudie doen saam met mede gelowiges, ook gebedsgeleenthede, ens.

Daarbenewens is sosiale media ʼn onmisbare inligtingsbron wat ons op datum hou met die nuutste giere en reëlings van owerheidswee.

Natuurlik moet ʼn mens die kwinkslae, humor en grappies nie links laat lê nie. Dit maak ʼn dag sommer ligter.

Baie mense kon gewoonweg met hul werksaamhede voortgaan met die huis as nuwe kantoor.

Globaal is ons aan mekaar verbind en dra ons mekaar se belange op die hart. Ek het al verwys na Andre wat klokslag elke Saterdag uit Skotland ʼn bemoedigende gedagte vir die week wat voorlê stuur.

Ek ontvangs ook hier en daar van ver plekke boodskappe van waardering vir die inset wat Toekomsvenster lewer.

Die wêreld het klein geword en desondanks al die wolf-wolf skreeuery met betrekking tot sosiale media is dit ʼn kosbare geskenk, ʼn genadegawe, ʼn hulpmiddel duisend, ʼn onmisbare skat en rede tot oorvloedige dankbaarheid.

Daarom weer, baie dankie dat ons ook op hierdie wyse aan mekaar verbind mag wees.

Mag vandag vreugde inhou en mag die naweek vol verrassings wees.

In Hom.

Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment