Monday 25 May 2020

Pinkster 2020

Hand.1:8     
       
“Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”



In die klompie jare waarin ek mens is het die realiteit van die noodsaak van die Pinkster gebeure nog nooit so krities, helder en duidelik na my gekom nie. Covid-19 het ons met ʼn hele klomp dinge kom konfronteer.

•  Die kortstondigheid van die lewe. Daarvoor het ons die getuienis van die Heilige Gees nodig dat ons inderdaad kinders van God is.

•  Ons verweefdheid met mekaar. Jesus se Hoëpriesterlike gebed in Joh. 17 dat sy kerk een sal wees kan net in en deur die werking van die Heilige Gees verwerklik word.

•  Ons onvermoë. Ons krag kom van God, die krag wat Jesus uit die dood opgewek het.

•  Ons potensiaal. Geïnspireer deur die Heilige Gees kan ons die onmoontlike vermag.
Daar is talryke perspektiewe op die bediening van die Heilige Gees in en vir ʼn tyd soos hierdie. Ons is nie alleen nie, God is steeds met ons. Immanuel, God met ons.

In die volgende dae, nou dat Hemelvaart gevier is, fokus ons op die bediening van die Heilige Gees. Nie as ʼn eenkeer in ʼn jaar herinnering en viering wat gou weer vergete raak nie. Nee veel eerder as ʼn opskerping en verwagting dat God met ons, die Heilige Gees, ons vandag en elke dag, ook in hierdie Covid-19 tyd, wil ontmoet, bemagtig, bekragtig, toerus, ook troos, bemoedig, verbind en genees.

Ons gaan om die beurt oor Pinkster geloof, Pinkster hoop en Pinkster liefde praat. Dan kom Pinkster genade, Pinkster troos en Pinkster Krag aan die beurt. Bly ingeskakel terwyl ons verskeie dimensies van die Gees se teenwoordigheid in ons lewens bedink. Mag jy ʼn nuwe Pinkster ervaring hê in hierdie dae.
Lewe met verwagting. Jy is nie aan jouself oorgelaat nie. Die Gees is hier.
Halleluja.



Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment