Friday 15 May 2020

Simbole van genade: “Daar is ʼn dierbare kruis”

Daar in ʼn paar goed wat saam met ons trek wanneer ons verhuis. Een daarvan is ʼn bordjie waarop staan “God sal sorg”. Dit hang onder aan ʼn boom se tak waar ons dit gedurig kan sien.

Dan is daar ʼn ruwe kruis. Twee planke wat in die middel aanmekaar gekap is en twee kettings wat van die kante af hang. Die woorde “vrede” in geroeste sinkagtige metaalletters is ook daarop aangebring.



Dit staan in die hoek van ons tuin, eweneens tussen die struike en bome. Net onder staan ʼn paar krismisrose wat ek by iemand wat alles uit sy tuin uitgehaal het geneem en in die grond kom druk het. Twee van hulle begin skaam, skaam rigting kry.

By ʼn goedkoopwinkeltjie het ek ʼn string liggies gekoop wat met sonkrag werk. Bedags laai die battery en saans vir ʼn uur of wat is die kruis helder verlig.

Wanneer ek na die kruis kyk begin die woorde van die bekende Halleluja waarmee ek grootgeword het in my gedagtes speel.


Daar’s ’n dierbare kruis,

waar my Heiland bewys

die liefde wat Hy vir my het;

Daar is alles voldaan

en die vyand verslaan,

Daar word ek van sonde gered.


Daar is so baie dinge wat ek nie verstaan nie. In hierdie tyd van ongemak en onsekerheid, wêreldwyd, wonder ek dikwels hoe en waar God inpas. Ek vra waarom Hy die Covid-19 pandemie nie keer nie en waarom mense sterf.

Dan weer moet ek ook vra waarom ek nog gesond is terwyl baie ander geïnfekteer is.

Dit is raaisels waarvoor ons nie antwoorde in hierdie lewe sal ontvang nie.

Maar as ek die kruis sien, die leë kruis, die plek van versoening, vergiffenis, lewe en vryspraak dan weet ek ons is nie sonder hoop nie.

“Ons oë is nie op die sigbare dinge gerig nie maar op die onsigbare. Die sigbare dinge is tydelik, die onsigbare ewig”. 2 Kor.4:18

Watter sinbole van genade is daar in jou omgewing?


Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment