Wednesday 22 April 2020

Wat is ingeperk?


Ons is reeds  dae ingeperk en dit lewer ʼn groot verskeidenheid van emosies op. Ek wou graag ʼn een woord beskrywing wou ontvang van wat jy beleef.



Angstig, gefrustreerd, rustig, vreesbevange, opgewonde (?), vertrou ens. Gebruik dalk sommer die kommentaar kolom onderaan om jou een woord beskrywing te gee. (Onthou, nie ʼn preek nie, net een woord!!)
Mnr. Ramaphosa het gisteraand tydens sy voordrag ook geen aanduiding gegee van hoe grendeltyd gaan uitspeel nie. Die ontplooiing van meer as 70000 soldate (sien media berigte)  bekommer ʼn mens inderdaad. Dit mag daarop dui dat ons ʼn bietjie langer gaan vertoef. Daar is ook sprake dat net sekere provinsies verder ingeperk word. Dan weer dat 60 jaar en ouer hulself vir die afsienbare tyd tuis sal moet besighou.
Inperking is ongemaklik en ʼn mens verlang na bewegingsvryheid en keusevryheid. Maar ʼn mens se optrede en reaksie word nie deur die owerhede bepaal nie.


Ons het beheer oor ons emosies en kan kies wat ons ruimte wil gee. Ons is en bly egter mense en niemand wat hier lees het al in die volmaaktheid aangekom nie. Ons is nog hier en word deur aardse realiteite geraak.
Ons liggaamlike bestaan mag ingeperk wees maar niemand kan ons gedagtes, emosies en spirituele belewenis inperk nie. My gees is vry om buite die ingeperktheid van my liggaamlike bestaan te beweeg.
So besoek ek my kinders terwyl ek nie by die hek mag uitgaan nie.

So bedink ek die toekoms, ook die verlede sonder dat my gees vasloop teen ʼn gegrendelde voordeur.
Meer belangrik, my gees en God se Gees ontmoet mekaar ruimtelik sonder om die gevolge van fisiese beperking te beleef. Dit mag inhoud gee aan die gesprek wat ek met God het maar dit transendeer die onmiddellike konteks.

Ek praat uiteraard nie ʼn van vreemde buite die liggaam ervaring wat aan die bonatuurlike toegeskryf word en nie Christelik fundeer is nie. Nee, ek is net hier maar ook daar.

Ek loop empaties in die stofstrate van informele woongebiede, beleef die onrustigheid van die mense, sien desperate mense hardloop om ʼn kospakkie te ontvang, sien kindertjies pluk aan mammas se klere omdat hulle honger en dors is en ek praat, pleit en vra vir God hoe ek dit beter kan maak.

Jy is dalk nie so ingeperk as wat jy dink nie. Jy vlieg met arendsvlerke soos die Psalmdigter en die skrywer van Jesaja en beleef die waarheid van God se Woord.

Julle is tot vryheid geroep ( Gal.5:13)

Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment