Tuesday 21 April 2020

Vandag is anders

Rom.8:19
Die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is.

Gerhard Verdoorn in ʼn talentvolle skrywer wat met woorde kan toor. In verbeeldingryke taal beskryf hy hoe die aarde sedert inperking tot rus gekom het. ( Die aarde het stil geword. Uiteindelik.)
Oral is daar tekens van lewe en die rustigheid is tasbaar. In sy Beeld bydrae vanoggend ( 21 April, middelblad) is daar ʼn refrein wat kort, kort herhaal word. Die woorde “vandag is anders”.
Ek haal ʼn paragraaf aan “ die grysbokkie ruik versigtig aan die dounat gras. Jare lank smag hy na die sappigheid van die klein ooptes tussen die ruigtes, maar die mens se voetval was soos ʼn doodsbeuel wat oral basuin het. Die dawerende gedreun van voertuie was vreesaanjaend en het alles wat loop en kruip, bos toe verdring. Vandag is anders”.



Daar verskyn verskeie artikels wat getuig van die herstel wat in die natuur gekom het sedert die mens, gedring deur noodsaak moes onttrek. In Indië kan die Himalaja gebergtes, sneeubedek oor ʼn 200 kilometer afstand gesien word. Sommige inwoners getuig dat dit die eerste keer in dertig jaar is dat die berg weer gesien kan word.
In China het die hemelruim opgeklaar namate giftige en skadelike in die atmosfeer nie meer losgelaat word nie.
Maar dit is veral die mens wat tor rus gekom het. Die wyse waarop hulle wêreldwyd innoverend toegetree het om ander se nood, trauma en vrese te help besweer is ongekend. Die medemenslikheid wat internasionaal teenoor mekaar betuig word is aansteeklik. Ons gemeenskaplike bedreigdheid is nou groter en belangriker as die dikwels kleinlike verskille wat op die spits gedryf word. Ons kan mekaar viktimiseer, oordeel en beoordeel as ons die dag onsself oorgee aan selfsug en eiebelang. Vandag is anders.


My kollega Wimpie, het Sondag so mooi gepreek toe hy gesê het, ons gee nou geboorte aan die wêreld waarin ons na Covid 19 wil lewe. Mag dit so wees. Mag mens en die res van die geskape werklikheid mekaar in ʼn harmonieuse samehang omhels. Mag die misbruik van bronne en van mekaar ophou. Mag politieke opportunisme iets van die verlede wees. Mag ons kyk hoe ons kan saamwerk om die Koninkryk gestalte te gee. Mag ons sagte harte hê. Mag ons vergewe, vryspreek, nuut begin, nuut bou en inhoud gee aan ʼn hoopvolle toekoms.


Vandag is anders.
En more?

Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment