Monday 9 March 2020

Matt.10:28



Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan.


Die Korona virus sal seker vir nog lank hoofnuus wees. Met drie bevestigde gevalle in Suid Afrika hou almal asem op terwyl daar gehoop word dat dit ( die virus) ʼn vroegtydige dood sal sterf.



Wikipedia gee die volgende definisie vir ʼn virus. “'n Virus is 'n mikroskopiese parasiet wat selle in biologiese organismes besmet”

Die woorde mikroskopies (subtiel, ongemerk, onopsigtelik, selfs skelm) parasiet (vyand, teestaander, kiem, organisme) en biologiese (mens en dier) besmet (vuil maak, besoedel, aanval, doodmaak, infekteer) laat my aan ʼn ander virus dink wat baie dodeliker is.

Teenoor ʼn aanval op die vlees, liggaam, buitekant is daar ʼn aanslag op dit wat binne die mens is, onsterflik, ewig, broos en vatbaar vir besmetting.

Matt.10:28 is ʼn ontstellende teks en laat ʼn mens na jou asem snak. Daar is ʼn besmetting wat uitloop op die ewige verderf, ʼn toekoms sonder God, hoop, liefde, vrede en rus.

Iewers sê die Bybel dat dit beter is om met een hand en een oog die ewigheid tegemoet te gaan, as om met beide funksionaliteite verlore te gaan. Die twee teksverse lê in dieselfde betekenisveld.

Dit is interessant dat die hele wêreld in rep en roer is oor die infeksie van die vlees en dit is gepas. Dit is egter die infeksie van die gees wat meer mense doodmaak, vermink, verneder, verrinneweer, verniel as eersgenoemde.

Sou dit nie merkwaardig wees as die wêreld die stryd teenoor hierdie lewensgevaarlike virus aansê nie. Dit manifesteer in vele gestaltes – misdaad en geweld, vernielsug en verwoesting, verwaarlosing en harde harte. Korrupsie en bedrog, selfsug, stryd, afguns, vooroordeel, so kan ʼn mens aangaan.

Dit is baie belangrik om gesond te lewe en jouself fisies op te pas. Die versorging van die innerlike mens is egter, sonder om eersgenoemde te onderspeel, van ewige belang.

Mag ons opgeskerp raak en leef en die lewe by, saam en met God drie enig nie misloop nie.

Ps. Dankie dat jy hierdie blog met ander deel.


Groete


Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenste

No comments:

Post a Comment