Sunday 10 November 2019

Dankie Here, dankie.



Mense kan wonderlike goed doen. Die Here het fenomenale vermoëns aan mense toevertrou en jy staan verbaas met die slim goed waarmee hulle vorendag kom.

Ek lees van ʼn opvoubare slim foon wat ʼn astronomiese R44000 kos en waarvan die eerste besending in Suid Afrika reeds uitverkoop is.

So is daar merkwaardige en wonderlike goed wat gebeur.

Tog kan ons die basiese elemente wat nodig is vir ons voortbestaan nie self produseer nie. Terloops, ek sien ʼn advertensie wat noem dat daar nie ʼn substituut vir bloed is nie. Onlangs egter hoor ek van ʼn substituut ( weet nie of dit al beskikbaar is nie ) wat vir alle doeleindes geskik is en sinteties is. Mens moet nooit se nooit nie.

Suid Afrika is uiters kwesbaar wat droogte betref. Reën kan sover my kennis strek nie nagemaak word nie. Sou dit kon gebeur was dit nie nodig dat boere plase opgee en bankrot uit die stryd tree nie. Diere sou nie sterf nie en voedsel produksie sou nie geraak word nie. Helaas, ons kan nie reën maak nie. Ons is radikaal afhanklik van God se guns en die natuur se gawe.

Juis daarom juig ons harte oor die reën wat geval het en die belofte dat meer op pad is.

Here, laat dit reën waar dit so droog is asseblief.

No comments:

Post a Comment