Wednesday 2 October 2019

#EkBly




Sjoe, positiewe mense met energie is soos ʼn vitamine B inspuiting ( sonder die brand gevoel). Dit is hoe ek voel oor die inisiatief #ImStaying

Ene Jarette Petzer het sommer ʼn paar gedagtes (video) oor waarom hy besluit het om nie die land te verlaat nie op sy facebook bladsy geplaas. In n ommesientjie het die inisiatief gegroei tot nagenoeg 400000 lede. Inderdaad, "it only takes a spark to start a fire", iemand moet net kreatief, pro aktief, energiek en hoopvol optree.

Suid Afrika het hoop nodig. Daar is soveel wat dreig om jou te ontsenu. Die toekoms is duister of hoopvol afhangend van watter bril ʼn mens opsit.

Die meeste van ons laat ons so intimideer deur wat tans aan die gebeur is dat ons met donkerbrille rondloop. Donkerbrille plaas nie net alles in skemer skakering nie maar doof ook die son se strale uit. Daarbenewens verskans dit ons identiteit en maak van ons ʼn statistiek. Ons kruip van die wêreld en mekaar weg agter die getinte glase van ons negatiewe lewensingesteldheid.

Die gloed, lig, energie en hitte van die son gaan vir ons verlore en ons sien die wêreld nie vir wat dit is nie. Die waarheid is egter dat daar ʼn massa mense is, die oorgrote meerderheid wat lief is vir hierdie land, wat in vrede en harmonie wil saamleef en ʼn gesonde omgewing wil help skep vir hulself en vir die nageslag.

Dis die stories van mense se ervaringe wat op #I'mStaying raakgelees kan word. Ek is daarvan oortuig dat die meeste van ons goeie stories het om te vertel, immers God is nie dood nie, leef steeds in die harte van mense, is met ons mooi land en sy mense op pad.

Sommige mense en vir verskeie redes vertrek. Dit is elkeen se goeie reg om oor sy lewe te besluit. Ons beste wense vergesel mede Suid Afrikaners oor die lengte en breedte van hierdie wêreld. Vir ons, die oorgrote meerderheid wat bly bied vandag weer ʼn geleentheid om deel van die antwoord te wees. Jou woorde, dade, ingesteldheid en storie tel punte. Laat die politici maar vergadering hou, dis die middelgrond wat Suid Afrika verander.

No comments:

Post a Comment