RIGTERS 6:12
Die Engel van die Here het aan hom verskyn en vir hom gesê: “Die Here is by jou, dapper man!”
Die geskiedenis van die Here se volk in die ou Testament is voorspelbaar. Goeie tye word opgevolg deur ʼn afvallige onverskilligheid, word opgevolg deur verdrukking deur omringende volke. Dit word opgevolg deur ʼn hulpgeroep en God, omdat Hy so genadig is, rig ʼn persoon op om sy volk van hul ellende te verlos.
Goeie tye volg wat opgevolg word deur ʼn gevoel van vanselfsprekendheid en gepaardgaande afvallige onverskilligheid. So herhaal die proses homself oor en oor.
In ʼn sin is dit hoe baie van ons leef. God bewys genade en die aanvanklike dankbare verwondering word opgevolg met ʼn gevoel van vanselfsprekendheid.
“Natuurlik sorg God vir my, Hy het darem belowe”.
Daar is egter niks vanselfsprekend aan God of sy genade nie. Ons leef elke dag in verwondering oor die onbegryplike waarheid dat Hy ons van ʼn bedenklike toekoms gered het deur ons sonde te vergewe. So het ons deel gekry aan die ewige lewe as ʼn teenswoordige en toekomstige werklikheid.
Gideon, op die stadium dat die engel van die Here aan hom verskyn, kruip letterlik weg vir die vyand. Die Medianiete is onversetlik en vernietig alles wat hulle sien. Die volk van die Here vind skuiling in rotsskeure en ander plekke. Dit is die hartseer gevolg van die keuses wat hul gemaak het.
Uiteraard doen hulle wat ons altyd doen wanneer die ongemak ons tref. Hulle roep na God, en Hy, in sy genade, verbondtrou en liefde, antwoord. Dan doen Hy die verrassende. Hy roep ʼn wegkruiper ( jy kan ʼn hele paar byvoeglike naamwoorde daar invoeg na gelang van jou gemoedstemming) om sy volk te verlos. Gideon se verbasing is groot. Hy is terdeë bewus van sy onbekwaamheid, sy negatiewe gemoedstoestand, asook die klein familie van wie hy afstam.
Goddank, Hy kyk nie soos mense nie. Dink maar aan die beskeie skaapwagter wat die grootste koning in die geskiedenis van Israel geword het.
God gebruik Gideon om iets te doen wat hy nie gedink het hy kan doen nie. God sien die potensiaal en moontlikhede raak. Hy sien wat Gideon nie sien nie. Hy laat Gideon selfs toe om minstens twee keer bevestiging te vra dat hy inderdaad reg gehoor het ( die skaapvel episode).
Uiteindelik word Gideon, wegkruiper, bangbroek, die aanvoerder van Israel se leër en troef die vyand in geen onseker terme nie.
Loof die Here dat Hy vandag verby ons onvermoë, gebreke, onsekerhede en verskonings kyk.
Jy is meer , veel meer!!
No comments:
Post a Comment