Thursday 24 October 2019

Dit was ʼn onstuimige week, veral wat twee sake betref.




In die eerste plek verwikkelinge in die DA wat uitgeloop het op die bedanking van onder anders mnr Athol Trollip, die burgemeester van Johannesburg mnr Herman Mashaba,  asook mnr Musi Maimane, leier van die nou beleërde politieke party. Die veelbesproke Helen Zille het ʼn manier om emosies gaande te maak en rimpelings te veroorsaak. In hierdie geval was dit nie net rimpelings nie maar reuse golwe wat selfs die mees bekwame branderplankryer nie kan baasraak nie.
In die woorde van een politieke analis word die DA reduseer tot ʼn nis speler wat moeilik aan sy wonde gaan herstel. Die scenario dat, volgens ʼn ander ontleder, sou die DA verder krimp en selfs skeur, die EFF dalk uiteindelik die amptelike opposisie in die parlement kan raak, kan sorg vir rustelose nagte.

Suid Afrika verander bykans van dag tot dag. Wat die politieke speelveld betref is alles vloeibaar.
Berigte van verkwisting ontstel amper nie meer nie.
Vanoggend se Beeld berig van ʼn begrafnis van ʼn raadslid  in Thwane wat die belastingbetaler  R576966 kos. Net die spysenierinsrekening vir die 250 roubeklaers het ʼn formidabele R400000 gekos. Ek het nie woorde om my misnoeë uit te spreek nie maar dat dit hoegenaamd hond sal haaraf maak is te betwyfel.
My bekommernis is dat gebeure in die DA die heersende politieke party nog minder kwesbaar maak vir kritiek en dat rehabilitasie ʼn hersenskim bly. Hulle kom spreekwoordelik met moord weg en dit verander nie.

Mnr Ramaphosa moet liefs tuis bly en deel met hierdie misdade teen die burgers van Suid Afrika voordat hy weer probeer om beleggings internasionaal te verseker. Die kraan drup steeds miljarde in die sakke van rampokkers.
Suid Afrika is moedeloos besteel. Daar moet verandering kom. Of die politieke wil daar is om die situasie aan te spreek is ʼn ander vraag.

Totsiens mnr Maimane, jammer dat u so moes gaan.

Die gebeure by ʼn skool in Richardsbaai het die gemoedere van baie Christene erg ontstel. ʼn Kunsprojek is uitgestal tydens ʼn prysuitdelingsgeleentheid van die skool wat ʼn verklaarde Christelike etos het. ʼn Pastoor pa was egter so ontstig deur wat hy as demoniese kuns beskou dat hy ʼn video opgeneem het. Die video het soos ʼn veldbrand versprei.

Ek moet erken dat ek een van die mense is wat gevoel het dat die uitstalling nie in orde is nie, veral nie waar leerlinge en die publiek klaarblyklik gemaklike toegang het nie. Die, sonder twyfel begaafde leerling, het onderskrifte by sy kunswerke waar die rasionaal van die voorstellings verduidelik word.

Volgens sy beoordeling lewer hy kommentaar op die wyse waarop georganiseerde godsdiens misbruik word om sommige mense enersyds te verryk en ander te verarm en te verkneg. Hy spreek, as ek hom reg verstaan, godsdiens in die algemeen aan maar Christus en Bybelse simbole word deurgaans gebruik.
My vraag is waarom Christene meermale aan die ontvangkant is.
Kritiek moet genuanseerd wees.

Kinders van die Here betreur die wyse waarop naïewe mense deur gewetenlose predikers misbruik en uitgebuit word. Handelinge wat hul menswaardigheid ernstig aantas word in desperate pogings om die guns van God te wen gedoen wat ʼn mens siek maak as jy net daaraan dink.
Dit is hartseer dat desperate mense se verwysingsraamwerk van die Evangelie so dun is dat hulle tot sulke optrede gemotiveer kan word. Dit is skreiend dat predikers in luukse weelde leef terwyl hul volgelinge van armoede krepeer nadat hul hul laaste sente uitgehaal het om die geldsug van hierdie wolwe te bevredig.

Maar, en dit is my maar – dit verwys hoegenaamd nie na die Christendom as geheel nie. Inteendeel. Net die kerk waaraan ek behoort se jaarlikse barmhartigheid begroting is duiselingwekkend. Daar is honderde gemeentes van verskeie kerkverbande wat noemenswaardige werk in hul gemeenskappe doen sonder om daarin te roem. Om dus met ʼn paar bewegings in hierdie geval die Christendom verdag te maak is ongevraagd.

Die skool se aanvanklike huiwering om die saak aan te spreek het ook gepla maar ʼn goed bewoorde apologie is sedertdien gemaak en ek wil dankie sê daarvoor. Inderdaad wil niemand die betrokke leerling of die skool se reg om grense te verken en selfs te verskuif, misken nie. Ons het nodig dat ook kuns ons help om die gebrokenheid, ja die verkeerde  van ons en ander se handelinge raak te sien.

Miskien is dit die reaksie van mede Christene, geleerde en gerespekteerde meningsvormers wat my meer ontstel. Die idee word geskep dat Christene wat deur die kuns ontstel is deurgaans fundamentalisties,  oningelig en bekrompe is. In soveel woorde word gevra waarom hul nie die energie in gemeenskapsprojekte en die opheffing van armes sit nie. Ek haal aan “ Prof Jansen says he wishes the so called Christians expressed the same ourtage about poverty, racims and zenophobia.

Dit is ongeregverdigde kritiek en demonstreer weereens dat Christene oënskynlik die enigste mense is wat hul eie soldate in die rug skiet. Ek nooi die geleerde professor om te kom kyk waarmee Toekomsvenster in Krugersdorp besig is, die programme wat op sosiale media gestroom word te kyk en die handleidings wat publiseer word te lees. Hy kan gerus ʼn draai maak by Toekomsvenster se facebook bladsy.

Miskien is die laaste woord dit wat ek aan die Bestuursraad van die skool gerig het.

There are important lessons to be learned for all of us.

Ek herinner my aan die woorde van ʼn bekende lied –

Our God is an awesome God
He reigns from heaven above
With wisdom, power, and love
Our God is an awesome God

No comments:

Post a Comment