Vanoggend se Beeld het ʼn voorbladberig wat lui – “Vuisvoos rand steier teen die toue”.
Ek is nie ʼn ekonoom nie en verstaan min van die ingewikkelde verweefdheid van faktore wat die waarde van die rand of enige ander geldeenheid bepaal. Dit is egter duidelik dat ons in ʼn globale wêreld woon en dat gebeure in een deel daarvan implikasies het vir die res. Die rand is gevoelig vir druk en invloed van buite af waaronder die temperamentele optrede van mnr Donald Trump tel. Die handelsoorlog met China, die spanning met Iran, interne gebeure in die VSA waaronder verskeie mense slagtings tel, ens. se invloed word ver en wyd gevoel.
Alida Kok, politieke wetenskaplike skryf vanoggend dat skuiwe in internasionale politiek aanleiding kan gee tot groot konflik. Die wêreld is deurmekaar en almal voel dit.
Ons konteks is Suid Afrika en derhalwe raak gebeure plaaslik ons meer as ander . Die rand is ʼn metafoor vir wat op grondvlak in die lewens van Suid Afrikaners gebeur. Ek dink die beskrywing “vuisvoos teen die toue” is ʼn goeie beskrywing daarvan. Hoe hoër die rand hoe duurder word dit op grondvlak, hoe armer word gemiddelde Suid Afrikaners en hoe ongunstiger word ons lewensomstandighede.
Suid Afrika is nie op ʼn goeie plek nie. Ons het nie profete nodig om dit vir ons te sê nie. Daar word van sekondêre trauma gepraat en in gesprek met dr Jan Botha maak hy dit van toepassing op ons land en sy mense. Daaglikse betogings, protesaksies en konflik getuig daarvan. Politieke toesprake, opruiend en opportunisties dra by tot die gevoel van magteloosheid. Dreigende rommelstatus en sukkelende, meer nog, bankrot semi staatsinstellings waaronder Eskom jaag die koors verder op. Onsekerheid oor grond en voedselsekerheid asook die verontagsaming van die insette van landbou deskundiges in verslae verlam verder. Plek, plek rafel die droogte boere se vermoë om te oorleef verder uit.
Korrupsie ontstel nie net nie, dit maak ʼn mens naar. Die nimmereindigende hofsake en verhore kom oënskynlik tot niks. Skuldiges beroep hulle doodgewoon op die volgende hof om tyd te wen en die saak te laat uitrafel. Die OB se onderrok hang uit. Redaksionele inmenging by die SABC laat ʼn mens vra wie jy moet glo. Werkloosheid wil dit hê dat een uit elke drie Suid Afrikaners nie ʼn betekenisvolle inkomste verdien nie.
Mnr Ramaphosa, die enigste persoon wat Suid Afrika op koers kan kry, word gemuilband deur interne struweling en tweespalk. Mnr Zuma se invloed is tasbaar en alles word in die stryd gewerp om die ontstellende uitbuiting van die staatskas te kontinueer. Politieke partye buit doodgewoon die verleentheid van ander uit om punte op te stapel. Niks nuuts en innoverend kom op die tafel nie. Bestaan die opposisie dan net om ander se foute uit te wys en vir eie gewin in te span.
Ons soek ʼn stem wat sal sê tot sover en nie verder nie. Verskeie meningsvormers vra dat mnr Ramaphosa nou met leierskap na vore sal tree. Praat is een ding, ons soek nou aksie. Hy moet ʼn besluit maak van nou of nooit. Jy kan nie almal tevrede stel nie.
Een opskrif in ʼn dagblad lui “Gebruik jou mag strategies, Cyril” en eindig met die woorde –“Hou die populiste en plunderaars in toom. Verdedig die middelgrond, ( gewone mense, vredeliewende burgers ), met selfvertroue. Dit is waar jy die meeste Suid Afrikaners sal kry”.
Iemand anders skryf “Mnr Ramaphosa het nog ʼn lang pad om te stap om ons gerus te stel dat ons moet bly hoop”. Die strekking van die artikel is dat hoop vinnig besig is om te taan. “Dis moeilik om deesdae optimisties te bly. Ons is nog ver van die oordeelsdag maar die tekens is nie bemoedigend nie”.
Anton van Niekerk in sy artikel sê Suid Afrikaners smag na ʼn normale samelewing. Hy begin by die abnormaliteit van apartheid en trek dit deur na die chaos van ons daaglikse bestaan in 2019. “Ons het met mnr Ramaphosa se staatsrede verneem van die drome wat hy droom. Ek dink die meeste Suid Afrikaners droom oor normaliteit – normaliteit vir die eerste keer. Wanneer, indien ooit gaan ons dit sien?”
Die redaksionele kolom is ʼn dagblad sluit sy kommentaar as volg af
“Mnr Ramaphosa sal die remskoene dringend moet afskud, want die krisis in die ekonomie vereis nou sy en sy regering se onverdeelde aandag”.
Mnr die staatspresident, deel met die verkeerde, tree met staatsmans-integriteit en gesag op. Ons soek u op die TV skerm waar u die volk aanmoedig tot pro aktiewe optrede. Soos die rand is Suid Afrikaners teen die toue. Die geveg kan ʼn een van twee kante toe gaan. Die uitklophou kan enige tyd geplant word. Die bloed vloei en oë is toegeswel van al die houe.
Niemand weet meer wie die opponent verteenwoordig nie. Daar het ʼn rol verduistering plaasgevind. Wie regeer in Suid Afrika. Letuli huis en Ace Magashule en sy genote of die regering van die dag.
As die ANC dan moet skeur laat dit liewer gouer as stadiger gebeur.
“Mnr Ramaphosa u sal verbaas wees hoe Suid Afrikaners agter u inval as u die regte keuses uitoefen. Ons is moeg en oorlaai. Ons steier teen die toue.
U se u krag is min.
Ons bid vir u.
U is nie alleen nie”.
No comments:
Post a Comment