Tuesday 6 August 2019

As ek groot is…



Suzette vra die kinders in haar klas wat hulle wil wees as hulle “groot” is?

Ons is mos almal deur daardie oefening en ek wonder hoeveel van ons het van kleintyd geweet waarheen die lewe ons lei wat ʼn beroep betref.

Een outjie antwoord “ ek wil ʼn baas wees”.
Idillies.
Doen wat jy wil en wanneer jy wil.
Kom so laat of vroeg as wat jy wil by die “werk” aan.
Spandeer geld na hartelus.
Gereelde vakansies en wegbreeknaweke

Droom voort.

As jy personeel het is hulle jou baas, so ook vennote, aandeelhouers en kliënte.

Dis ʼn hersenskim.
Niemand is sy eie baas nie.

Ek het ʼn vriend wat ʼn boerdery bedryf. Hy noem homself die voorman en God die Eienaar.

Hy neem geen besluite sonder om die Eienaar te raadpleeg nie.

Hy spandeer, belê, brei uit ens. net as die Eienaar die groen lig gegee het.

Hy beskou sy diere as lewende harte wat opgepas moet word.

Hy neem mede-verantwoordelikheid vir die spirituele versorging van sy werknemers.

Hy dra hulle belange op die hart.
Dit klink vir my na ʼn baas.

Jesus het gesê as iemand wil baas wees moet hy leer om te dien.

Nog mense wat base wil wees?


MATTEUS 20:26

Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees



No comments:

Post a Comment