Ek het gister verwys na die opleidingsgeleentheid wat ek die afgelope paar dae bygewoon het. Een van die student was ’n jong seun van 18 jaar oud. Die gemiddelde ouderdom van student kon in die omgewing van 35-40 gewees het. Tog het hierdie seun nie vir ’n enkele oomblik teruggestaan vir die res van die leerders nie. Sy volwassenheid en gemaklikheid met homself en ander het beïndruk.
Sommer van buite geoordeel was dit vir my duidelik dat hy ’n goeie opvoeding geniet het waarin daar genoeg ruimte was om sy eie bakens te verken en te bepaal. Hy het ’n uitgaande persoonlikheid en het nie ’n oomblik skaam of teruggetrokke vertoon nie. Komplimente aan sy ouers en opvoeders.
Al het kinders verskillende persoonlikhede en gawes moet dit vir hulle nie moeilik wees om hulself in die teenwoordigheid van ander te handhaaf nie.
Aan die einde van die verrigtinge kon elkeen sê wat die opleiding vir hom beteken het. Sy opsomming was soos volg. “I have discovered there are many dimensions to the Human soul. Its time I take out my shovel and start digging”.
Joe, hete, jitte, jislaaik, maggies, magtie, dit het my uitgeboul.
Vir so baie mense is die lewe een dimensioneel en eintlik vervelig en voorspelbaar. Soos jy opstaan gaan slaap jy. Môre en oormore volg jy dieselfde roetine. Daar is niks nuut nie en dit terwyl die Here veral in Jesaja ons uitnooi om die nuwe wat Hy wil doen te omarm en te verwelkom.
Die jongman is reeds ’n “life couch” en bedien ander jongmense.
Het jy al ontdek dat daar meer aan die lewe is as eet en slaap en werk en hier en daar sosialiseer en ontspan?
Selfs jou verhouding met die Here is pure roetine, soos gister en eergister sonder dat iets betekenisvol gebeur.
Miskien het die tyd gekom dat ons die graaf uithaal en begin grou.
Daar is soveel meer!
Lees net weer Deut. 32. Dis tyd om uit die nes te kom.
No comments:
Post a Comment