Monday, 18 March 2019

Die lewe is ʼn geskenk, daag op.



Somtyds sê mense iets wat jou tot stilstand bring.  Na aanleiding van ʼn werkswinkel oor persoonlikheidstipes wat ek bygewoon het en  die gawe en uitdagings wat elkeen bring, merk een persoon aan die einde van die verrigtinge en ter opsomming op dat die lewe ʼn geskenk is, die minste wat ons kan doen is om op te daag.

Sy sê dit eintlik in Engels – life is a gift, the least we can do is to show up.

As ek oor mense dink, myself ingesluit, is vanselfsprekendheid een van die grootste uitdagings waarmee ons worstel. Ons is op “auto pilot”, die lewe gebeur en ons kom nie eers agter nie. Ons aanvaar elke dag en elke asemteug as vanselfsprekend.
Dit was nog altyd so en wie sal nou daaraan dink dat ʼn mens dit moet “celebrate”.

Ons verlaat ons huise op weg na die werkplek en dink nie twee keer aan die moontlikheid dat ons ons bestemming dalk nooit sal bereik nie.
Dit beteken uiteraard nie dat ʼn mens in negatiewe pessimisme en met ʼn donker wolk omgewe moet leef nie, altyd besig om agter jou te kyk, die slegste te verwag en wantrouig te wees nie. Duisend maal nee.

Nog meer gevaarlik is ons geneigdheid om die verlossing in Christus Jesus as vanselfsprekend te neem.
Dit sluit sy Woord, genadegawes, beloftes en beskerming in.

As ek egter vanoggend wakker word met ʼn gewaarwording dat ek steeds “hier” is, oorweldig  dit my met dankbaarheid.
As ek gereed maak vir werk en kies en keur tussen die klere in my kas, vul dit my met verwondering.
As ek stil word met God se Woord in my hand en sy vertroostende bystand beleef vervul dit my met ontsag.
As ek skouer skuur met my kollegas by die werk vervul dit my met deernis.
As ek vanaand my gesin vertroetel en naby aan my hart druk vervul dit my met eerbied.
As ek my wederhelf vashou en die liefde vier vervul dit my met misterie.

Die lewe is ʼn gawe, ʼn geskenk, ʼn kleinood, eenmalig en kosbaar duursaam.
Moet dit nie as vanselfsprekend aanvaar nie.
Leef elke oomblik.
Daag op, dis die minste wat jy kan doen.

No comments:

Post a Comment