Thursday, 29 November 2018

Die Here regeer


As jy ʼn banier (opskrif of stelling ) moet maak van die vertrekpunt van jou lewe wat sou dit wees?
Enkele woorde wat iets vertel van die beginsel waarvolgens jy lewe. Alles moet onder daardie sambreel inpas. Die goeie en die minder goeie. Die op en die af. Die uitdagings en die geleenthede.
Miskien wil jy in die kommentaar kolom jou banier se bewoording met ander deel. Ek dink Ps. 99 se eerste woorde is uiters gepas. “Die Here regeer”.
Dit bring soveel gemoedsrus in ʼn mens.
Niemand se lewe is sonder uitdagings nie en myne is huidiglik redelik deurmekaar. Baie beloftes uit God se Woord is die rigtingwyser. Ek sien nie alles nie, baie lê in die jaar vorentoe maar ek moet nou reeds sekere besluite maak op grond van wat ek verstaan die Here sê. Dalk kan jy daarmee identifiseer.
Die banier “Die Here regeer” bring ʼn gevoel van berusting en kalmte. Selfs verkeerde besluite is onder hierdie vaandel veilig. Immers, vir hulle wat die Here liefhet werk alles ten goede.
Indien jy nog nie so ʼn duidelike vertrekpunt vir jou lewe het nie nooi ek jou uit om Ps. 99 se eerste woorde jou lewensmotto te maak. Haal dan diep asem en ontspan. God is in beheer.
Ps. 99:1
Die Here regeer: die volke erken bewend sy gesag. Hy troon oor die gerubs: die aarde sidder van ontsag.
ROMEINE 8:28
Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.
Groete, Jannie Pelser

No comments:

Post a Comment