Ons het darem snaaks grootgeword, nie waar nie?
Ek hoor my pa se stem “sit stil, eet jou kos, ʼn mens praat nie aan tafel nie”
Nou hoe dan? Wanneer mag ʼn kind dan praat?
Ek weet hy het dit goed bedoel maar dit beteken nie dis die beste manier van opvoeding nie.
Maaltye in die Bybelse tyd was sosiale geleenthede. Dis waar gedagtes uitgeruil is, die vreemdeling verwelkom is ( dink aan die naby oosterse gasvryheid), vrae gevra en beantwoord is, getuienisse en ervarings gedeel is, God se groot dade in die geskiedenis in herinnering geroep is. Dink aan die Pasga wat vandag nog in Joodse geledere gevier word. Dis ʼn kuiergeleentheid by uitnemendheid.
Kinders bring soveel vreugde in ʼn mens se lewe. Benut elke oomblik om hulle te geniet en te waardeer. Kinders word groot en dis nie lank nie en hulle vlieg met die arendsvlerke wat jy hulle gegee het. Dan moet hulle genoeg geloofs- en persoonlikheid stamina hê om ʼn harde lewe in die oë te kyk. Hulle moet hulself kan verantwoord, beredeneerd aan ʼn gesprek kan deelneem en hul man spreekwoordelik kan staan. As julle dit nie aan tafel doen nie, wanneer doen julle dit dan.
Kinders moet gesien én gehoor word en basta.
Deut. 6 vers 6
“Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan.
Groete, Jannie Pelser
No comments:
Post a Comment