Die Bybelboodskap is nie moeilik en verhewe nie. Dis prakties en op die man af.
Jakobus is ʼn man met ʼn boodskap. Luister gerus terug op Toekomsvenster se “app.” na die Jakobus oordenkings. (laai af op jou selfoon).
Hy skryf hier oor die twis en afguns wat so deel van die geloofsgemeenskap is. Sy verklaring is duidelik en verstaanbaar.
JAKOBUS 4:2
Julle wil dinge hê, maar kry dit nie en wil dan moord pleeg; julle is jaloers op 'n ander man se goed en kan dit nie in die hande kry nie en dan maak julle rusie en baklei julle.
Julle kry nie, omdat julle nie bid nie.
In stede daarvan om die Here te vertrou met wat ons nodig het raak ons jaloers en afgunstig op ander mense se besit en oënskynlike voorspoed. Ongeag van hoe hulle dit gekry het is die antwoord aan die adres van kinders van die Here duidelik. Bid en bring jul behoeftes na die Here. Hy sal voorsien en sorg.
As ons tog net wil doen wat die Woord vra. Dit sal ons en ander soveel hartseer en pyn spaar.
Dalk is die boodskap van die Bybel te eenvoudig vir prestasie georiënteerde mense soos ons.
Dit kan tog nie so maklik wees nie.
Niks in die wêreld werk so nie.
Jy moet aspireer, presteer, uithaal en wys as jy iets wil bekom.
Die Here sê soek eers die Koninkryk van God en sy geregtigheid en al die ander dinge sal bygevoeg word.
Kom ons keer terug na die eenvoud van God se Woord!
Dis soveel makliker.
Ps. Het jy al jou kopie van ons nuutste stiltetydhandeleiding “Here leer ons bid” bekom? Dit sal jou help met kinderlike geloofsvertroue.
Skakel Drienie 011 6652017
No comments:
Post a Comment