Monday, 27 August 2018

Ek is ʼn dapper muis.


Die afgelope naweek het ek die voorreg gehad om met ʼn aantal dames te gesels oor vrees. Dié universele probleem kan ʼn mens baie opdraand gee. Ek herinner my aan die storie van die muis wat vir niks bang is nie. Natuurlik word sy tirade met “jy jok” afgesluit. 

Ons is almal bang by tye, sommige goed is sommer net om in die mode te wees. Ander vermy ons met alles wat ons het. Ander beïnvloed ons geloofslewe tot so ʼn mate dat ons nie ons potensiaal voor God kan bereik nie.

Vrees immobiliseer ʼn mens. Dit is berekend uit die hel bedink en word nommerpas toegepas. Dit wil ons van ons vreugde en vrede beroof. Dit laat ons ontmoedig en teleurgesteld. Dit erodeer ons geloofsvertroue en beroof ons van ons passie. Dit wil uiteindelik die beloftes en roeping wat die Here vir ons gehad het tot so ʼn mate ondergrawe dat jy net opgee. Uiteindelik gaan jou drome saam met jou graf toe omdat jy en ek bang was.

Die tien verspieders was bang. Wat hulle gevrees het was nie irrasioneel nie. Daar wás reuse aan die anderkant van die Jordaan. Maar daar was en is ʼn Reus waarmee hulle moes reken en vir wie hulle moes vertrou.

Nie minder as 365 keer ( weet nie wie het getel nie) word gelowiges in die Bybel gemaan om nie bang te wees nie.

Vat een van daardie vir vandag. 
More sal daar 364 oor wees. 
Skrikkeljaar lewe jy uit die oorwinning.

No comments:

Post a Comment