Wednesday 2 May 2018

Dis chaos

Dis baie deurmekaar in Suid Afrika, om die waarheid te sê, dis chaoties. Op die aand TV nuus is dit die een opstand en betoging  op die ander,  vullis wat die hele wêreld vol gestrooi is, vragmotors wat brand, winkels wat geplunder word en eiendom wat beskadig word. 



Dis dreunsang en dreigemente. 
Dis lesinglokale en dienste wat ontwrig word. 
Dis stakings, ontvoerings, verhore waar mense doodgewoon nie opdaag nie.
Dis moord en doodslag en niemand word ontsien nie. 
Dis beleggings wat opdroog en sakevertroue wat aan`t skerwe lê.
Dis korrupte amptenare en leiers  wat broodnodige armoede verligting moet aanspreek wat rykdom steel, siekes wat in hospitaalgange op die vloer lê, ander gaan dood weens ʼn gebrek aan mediese sorg.
Dis geblikte leeus en renoster slagting. Dis werkloosheid en armoede.
Dis onbeholpenheid, lang rye, hulpbronne wat opraak en vermorsing.
Ons maak ons vrouens dood, skiet ons kinders, verwaarloos mekaar.
Ons sosialiseer en hou partytjies, beklae ons lot by die braaivleisvure, stook onrus en onttrek in ʼn ghetto bestaan.
Ons bou die mure al hoër, belê in die buiteland, probeer ons verskans teen die onrus maar dis net ʼn kwessie van tyd.
Dis ontstellend, gebroke, chaoties. 
Dis Suid Afrika.
In die begin was die aarde woes en leeg. Toe spreek God. “Laat daar lig wees en daar was lig”. En toe begin Hy om orde te bring te midde van die chaos. Uiteindelik stel Hy die mens aan om die nou geordende wêreld te bestuur en te laat vlot.
Dit het nooit gebeur nie. 
Toe die chaos weer op sy hoogste is stuur Hy sy Seun en Sy Gees. Die opdrag word herhaal. Bring en handhaaf die orde.
Steeds bly dit uit. 
Wie moet die skuld kry? 
God is altyd bo verdenking. 
Ons maak droog. 
Ons steel en besteel mekaar, beswadder en beledig. 
Ons weerhou wat ons moet deel en rantsoeneer die liefde. 
Ons soek God waar Hy nie is nie. 
Dis tyd dat daar weer orde kom. 
Dis tyd vir herlewing. 
Dis tyd dat die kerk na vore tree en sy roeping vervul. 
Dis tyd dat Christene opdaag waar daar chaos is en orde bring.

No comments:

Post a Comment