Friday 13 April 2018

Ry die golwe

Die see is ʼn wonderlike plek, ook ʼn plek waarvoor ʼn mens groot agting en respek het.
Ek is seker dat baie mense daarvan hou om te gaan swem as hulle by die kus is. Dis mos waarvoor ʼn mens “see toe gaan” , nie waar nie?



Dis egter baie vervelig as die beste wat die see kan aanbied sulke tengerige baba golfies is. Dit maak skaars jou voete nat.

Nee, ʼn mens soek so ʼn bietjie avontuur en wil deur die golwe “meegevoer” word.
Wanneer die regte golf breek is jy klaar geposisioneer om die golf te ry.
Jy is onderstebo en deurmekaar, water en sand gemeng klou oral vas maar “what a ride!”
Lewensgolwe is somtyds klein en gemaklik om te oorbrug. Dit verg nie veel inspanning nie en word sommer gou uitsorteer. Dit bied egter ook nie veel uitdagings aan jou geloof nie.
Jy mag selfs dink dat jy dit in jou eie krag kan baasraak. 

Wanneer die groter golwe breek doen ons die teenoorgestelde van wat ons by die see doen. Ons probeer met alles wat ons is daarvan wegkom. Met jou oë op die vlak water beur jy met alles wat jy het vorentoe om so gou as moontlik veiligheid te bereik. 

Die avontuur bestaan daarin dat jy die golf ry en wonder waar dit jou gaan uitbring. Die ervaring dat daar nie grond onder jou voete is nie en dat jy somtyds behoorlik gerol word maak dit die moeite werd.
Nou maak dit ʼn appél op jou geloof en vertroue. 
Nou vra jy God se hulp en verwag dat Hy jou gaan help. 
Dis steeds jy wat die golf ry. 

Dis waartoe die Here jou bemagtig. 
Waarom probeer ons met alles binne in ons van die golwe af weg kom as dit is waar die groei en vervulling lê?
As die golf na jou die aankom, kry jou lyf in posisie. 
Duik vernuftig in die vloei daarvan in en ry dit voluit. 

Staan vervuld daaruit op en dank God vir die ervaring, geleentheid, groei en volwassenheid wat dit bring.
Komaan, ry die golf!! 


No comments:

Post a Comment