Wednesday 11 April 2018

Leef in God se Koninkryk

Jesus se intree boodskap het met die koninkryk van God te doen gehad. As dit die inleiding tot Jesus se aardse bediening is moet dit seker van kardinale belang wees en dit is inderdaad so. Jesus het kom regmaak wat sonde verrinneweer het, ten minste in beginsel. 

Die eerste Adam het liederlik verbrou onder aanmoediging van die duiwel se leuens. Die tweede Adam het God se bedoeling met die mens kom vergestalt en demonstreer.
Wat is daardie bedoeling?



Uiteraard die wyse waarop Adam en Eva geleef het voor die sondeval, ʼn toestand van vrymoedigheid en intimiteit teenoor God. Hulle was naak en dit het hulle nie gepla nie. Naaktheid is ʼn metafoor vir die onskuld en reinheid waarmee hulle geleef het. Daar was niks wat hul verhouding met hul Skepper kon skaad nie. Mens kan jou so ʼn toestand van heerlikheid nouliks voorstel.
Dis wat hemel beteken. 

Radikale vrymoedigheid in die teenwoordigheid van die Koning.
Die res van die verhaal en die stukkende wêreld wat dit tot gevolg gehad het, is bekend.
Die duiwel werk slim. Hy saai twyfel, net genoeg om ʼn mens te laat struikel. Sy suggestie is dat God dit nie opreg bedoel met Adam en Eva nie. Hy wil hulle in die duister hou en het selfsugtige motiewe as Hy hulle opdrag gee om nie van die boom se vrug te eet nie. “Julle kan en sal soos God wees” sê hy. 
Dit is buitegewoon aantreklik, die gedagte dat ʼn mens nie verantwoordbaar is nie maar jou eie besluite kan maak. Totale onbeperkte vryheid sonder die belemmering van Iemand wat oor jou skouer loer. Wie sou nie daaraan toegee nie?

Die res is geskiedenis. 

Goddank, Jesus van Nasaret het kom regmaak wat Adam ( en ons) verbrou het. Dit ís moontlik, ongebreidelde intieme geloofsgemeenskap met die Vader.

Die voorhangsel het geskeur. Alles het nuut geword. Sonde en ongeregtigheid is uit die weg geruim , die Vader wink ons terug na Hom toe.
Dit is die boodskap van die Koninkryk. God in alles en in almal. Jesus die Koning oor alle samelewingsverbande.

Ds. Colin Smith (kerksondermure) het pas ʼn uitnemende dagboek vir Toekomsvenster  ( 9 weke, 45 dagstukkies) oor hierdie onderwerp geskryf. Dit is ʼn absolute móét in ʼn tyd waarin daar soveel is wat mense moedeloos maak.

Léér om in God se Koninkryk te lewe. 

Skakel Drienie by 011 6652107 of bestel aanlyn by www.toekomsvenster.co.za
Ps. Het jy na vandag se Gedagte vir die dag op Toekomsvenster se app. geluister? Dit gaan oor die nagmaal en die wyse waarop ons aan die tafel aansit.

No comments:

Post a Comment