Wednesday 28 March 2018

Tweede Kruiswoord

“ Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” (Luk. 23:43)

Ons gesels verkennend oor die sewe kruiswoorde wat Jesus uitgespreek het ten tye van die kruisigingsgebeure. Jesus, die Lam van God en onskuldig aan enige beskuldiging wat na Hom geslinger is word tussen twee kriminele gekruisig. Volgens meeste evangelies tree die twee weerskante van Jesus ewe onverskillig op. Hulle voeg hul stemme by die van die jillende skare mense wat beledigings na Jesus slinger.
Lukas gee egter ʼn ander perspektief op wat daar gebeur het. Terwyl die een misdadiger minagtend na Jesus verwys en geen teken van berou toon oor die dinge wat hom juis in hierdie benarde situasie laat beland het nie wys die ander hom tereg. Hulle verdien die straf wat hulle nou moet verduur getuig hy, maar hierdie Jesus is onskuldig.



Iets in die wyse waarop Jesus sy lyding verduur spreek hom aan. Hy word bewus daarvan dat hy nie hier met ʼn gewone man te doen het nie. Die verwyte en beledigings wat Jesus toegeslinger word, die woorde bokant die kruishout wat bedoel is om verder te spot, is inderdaad waar. Hierdie man ís die Seun van die lewende God. Hy het die lewe in Homself en kan dit ook aan ander gee. Derhalwe sy nederige en opregte gebed. “Here, dink aan My as U in U in U Koninkryk kom”.
Jesus herken ʼn soekende mens en wys niemand weg nie. Hierdie man mag ʼn misdadiger wees en die misdade was na alle waarskynlikheid nie gering nie, maar die liefde van God oorbrug alles. Niemand wat die Here aanroep word teleurgestel nie. Juis hiervoor het Jesus in die wêreld gekom nl. om sondaars te red. Vir hierdie man het daar redding gekom.

Jesus is meer as ontvanklik vir die versugting van hierdie mede “kruiseling” en verseker Hom dat sy gebed inderdaad verhoor word.

Jy mag vandag intens bewus wees van jou sondige aard en optrede. Jy mag reken dat jou ongeregtigheid God se genade van jou sal weerhou. Die wonderlike nuus is egter dat God se liefde in alle opsigte groter is. Die hoofsaak is dat jy bereidwilligheid toon om te verander, dat jy jou hulpeloosheid besef en jou op God se genade verlaat. Dat jy uitroep..Jesus Seun van Dawid, wees my genadig. Ps. 139 sê dat God ʼn gebroke gees nooit van die hand wys nie. Vir jou sal die redding deurbreek soos die oggendson. Bid saam met my:
Here, ek is diep bewus van my sonde en gebrokenheid. 
Ek is aan die einde van myself. 
Ek het U so nodig.
Vergewe my en verander my hart.
Ek gee my lewe aan U oor. 
Amen

No comments:

Post a Comment