Monday 26 March 2018

Eerste Kruiswoord

“Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” (Luk. 23:34)

Die bekende sg. sewe kruiswoorde van Jesus is baie relevant omdat ons eerskomende Vrydag sal stilstaan by die offer wat Hy terwille van ons gebring het. Betekenisvol word dit “Goeie Vrydag” genoem.

Somtyds verwys ons na Mnr Mandela en die verrassende dat hy na ʼn leeftyd in die gevangenis, nie  ʼn verbitterde man geword het nie. Min sou hom dit verkwalik. Dis was  strategiese deel van sy lewe en om juis dan onder andere van jou gesin vervreem te wees, moet baie moeilik wees. 

As ons egter enige iets van vergiffenis geleer het is dit die wyse waarop Jesus sy onregmatige vervolging, verhoor, skuldigbevinding, vergeseling en uiteindelik kruisiging verduur. As Seun van die mens sou Hy ʼn legioen engele kon opkommandeer om Hom te verlos.



Matt 26: 53         
Of dink jy Ek kan nie my Vader om hulp vra nie? Hy sal dadelik vir My meer as twaalf legioene engele beskikbaar stel.

Nie dat Hy engele nodig sou hê nie, omdat Hy God is kon Hy enige verlossingsdaad met ʼn enkele woord uitvoer, immers dit is hoe die ganse kreatuurlike werklikheid tot stand gekom het, net ʼn woord, ʼn gedagte, ʼn versugting en dit het gebeur.

JOHANNES 1:3
Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie 'n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie.

Jesus weet egter dat Hy hierdie lydingsbeker tot sy konsekwensie moet ledig terwille van die verlossing van mense wat dit boonop nie verdien nie.

Jesus spreek nie woorde van veroordeling en wraak nie maar woorde van deernis en vergiffenis. Hy bid en vra dat sy Vader die mense hierdie onbesonne daad sal vergewe. Die tierende Jode en die magsbeluste geestelike leiers is agente van hul eie onkunde. Hulle kry nie die lyne getrek tussen die beloftes van die verlede en die openbaarmaking en realisering daarvan in Jesus van Nasaret nie.

Die onverstaanbare hardvogtigheid van mense wat sy koms verwag het maar nie daarin kon slaag om Hom te herken nie bring hulle by hierdie brutale daad. Jes. 53 het die marteling van Jesus eeue van te vore profeties voorspel. Nou gebeur dit voor die oë van die mense vir wie Jesus sy lewe aflê. 

Johannes getuig daarvan as Hy sê Hy het na sy eiendom gekom maar hulle wou Hom nie ontvang nie. Desnieteenstaande kon die duisternis die lig nie oorweldig nie.

JOHANNES 1:11
Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie.

Was jy as verontreg , ten minste na jou beoordeling? 
Hoe het jy reageer? 
Is jy nog steeds kwaad, verbitter en ontevrede? 
Leef jy in vyandskap met jou naaste?
In die lig van wat Jesus gedoen het mag ons nie onversoen met ons naaste lewe nie.

Dalk is jy kwaad vir God. 
Spreek Hom vry. 

Dalk is jyself die adres van jou verbittering. 
Kom vry in Jesus Naam. 

Vanaand skryf ek oor die tweede kruiswoord van Jesus. 
Dankie dat jy hierdie gedagtes met ander deel.

No comments:

Post a Comment