Ek is buitegewoon lief vir bome en het groot respek en agting vir bome wat jare van wind en weer, droogte en reën, vrede en oorlog, voor en teëspoed oorleef het.
Die hoogtepunt van arrogansie is wanneer mense doodluiters bome, baie ouer as hulle, sonder blik of bloos afsaag terwille van watter saak ook al. Mens saag net ʼn boom af as dit lewensbedreigend is.
Selfs Bloekombome wat klaarblyklik groot hoeveelhede water drink is mooi. Maak dan eers al die waterlekke, druppende krane en onnadenkende gebruik van water reg voordat jy jou hand aan ʼn boom slaan, sou ek wou waag sê.
Nouja, dis sentiment wat praat en toegegee, somtyds is daar ander faktore wat in ag geneem moet word. As dit egter hoegenaamd kan, dink twee keer voordat jy ʼn boom “doodmaak”.
Die Bybel vergelyk die lewe van ʼn gelowige meermale met die van bome. Die bekende Psalm 1 is daarvan ʼn voorbeeld, “soos bome wat geplant is by waterstrome”, sê die teks.
Wilgerbome is besonder mooi en ʼn mens wil jou in die lang gras, onder die takke wat na alle kante afhang terwyl ander vlerk slepend in die water hang, gaan neervly. Dis die koelte wat jou lok. Dis die koelte wat jou uitnooi en sê “kom rus ʼn bietjie, kom tot verhaal, kom skep asem, kry siel, gees en liggaam net eers weer op dieselfde golflengte”.
Almal het sulke wegbreek oomblikke nodig. Die lewe is rof, daarom moet n mens vir wegbreek begroot in jou dagboek.
Ons word geroep om vir mekaar sulke “koelte plekke” te wees. Plekke van onvoorwaardelike aanvaarding, waar jy nie hoef te presteer, beïndruk of voor te gee nie. Plekke waar jy jouself mag wees, al beteken dit wat. Plekke waar jou reputasie nie op die spel is nie, waar die ware jy na vore tree, ʼn veilige sone sonder veroordeling.
Dit beteken nie dat die koelte nie in jou lewe wil inspreek nie maar die wyse waarop dit jou akkommodeer, gee dit ʼn reg daartoe.
Dis hoe Jesus ons ontvang. Net soos ons is, sonder voorwaardes en dwang. Dis hoe ons vir mekaar moet wees. Toegegee, ons kan nie alles vir almal wees soos Paulus probeer doen het nie maar ons kan vir iemand ʼn plek van lafenis wees en word. In elk geval, absorbeer bome nie die koolsuurgas in die atmosfeer en gee lewensnoodsaaklike suurstof in ruil nie?
Uiteraard in jou binnekring eerste, tuis en dan na buite.
Kinders wat hul ouers as toeganklike mense beleef, mans en vrouens wat veilig voel by mekaar. Werknemers wat dit mag waag om hul mening te gee. Anderskleuriges wat aanvaarding beleef.
Koelte verskaf deur bome met stamme diep in die grond van God se genade.
Ps.
Hierdie daaglikse blog is een van die maniere waarop ek die bediening uitleef. Dis ʼn voorreg dat jy dit lees en oorweeg vir jou eie lewe. As ek vrymoedigheid mag neem vra ek of jy dit nie deur dit te “share” by jou sosiale media vriende wil aanbeveel nie. Op dié manier word ons kollegas van mekaar en deel ons in dieselfde roeping. Ek sal dit intens waardeer. Skryf gerus vir ons by info@toekomsvenster.co.za en besoek ons webwerf by www.toekomsvenster.co.za
Laai ook ons app., Toekomsvenster, af. Daar is soveel meer.
No comments:
Post a Comment