Thursday 29 March 2018

Ek herinner my aan ʼn lied van Wian Vos


U is in beheer wonderbare Heer 
U wat steeds getrou U skepping onderhou 
U is in beheer wonderbare Heer 
U wat alles vorm tot U eer (2X)

Die lewe is nie eenvoudig nie en dit is veral van toepassing op ons geestelike lewens. God se reddende genade in Christus Jesus is so eenvoudig dat selfs ʼn kind dit kan verstaan en daarop kan reageer. Die res is nie so maklik nie.



Wie al probeer het om God op ʼn resepmatige basis te volg en op grond daarvan uitkomste te antisipeer kom bedroë daarvan af.
Die Bybel skrywer bring lof aan God en bevestig dan dat Hy nie die raad van mense nodig het in sy op weg wees met hierdie wêreld nie. ROMEINE 11:34 AFR83
34“Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad?

Die Bybel leer ons verder dat God se wee anders as ons weë is.
Jes.55:8: Want My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie My weë nie, spreek die Here.”.

Baie mense in Suid Afrika het vir hulself ʼn ander toekoms voorgestel as die een wat voor hulle ontvou of ontvou het. Dit geld van alle mense wat hier woon.

Sommige het sekerlik nie daarvoor gekies om in die verlede onteien en verwyder te word van waar hul tuis was nie. Hulle moes doodgewoon ʼn nuwe toekoms daar uitbeitel en baie het. Dit sê iets van die menslike gees wat weier om oor te gee. Jy moet doodgewoon voortgaan en die beste maak van ʼn slegte saak. Daar is geen alternatief nie.

Na berig word is meer as 2 miljoen mense onder die vorige bestel deur onteiening en gedwonge verskuiwing geraak. Baie van hulle leef nog en die herinnering lê vlak in die geheue. Dis hulle kinders wat nou probeer sin maak van die nuwe Suid Afrika en dit meermale baie onbeholpe doen omdat daar nie leiding is nie en omdat wolwe gereed staan om hulle vir ander agendas te mobiliseer.

Dieselfde kan gesê word van mense wat oënskynlik nou dieselfde pad mag loop. Dis niks anders as ʼn herhaling van die verlede nie. Nou is die rolle egter omgekeer, nou is hulle aan die ontvangkant.

Die vertroosting is dat anders as destyds daar meganismes in plek is wat ʼn mens ten minste op ʼn manier in staat stel om te onderhandel. Ons het die grondwet wat as een van die mees gesofistikeerde dokumente van sy aard in die wêreld aangeslaan word. Ons het ʼn regstaat waarin die howe se leiding oor en oor bevestig word. Ons het herhaalde beloftes dat die proses verantwoordelik sal plaasvind. Ons het organisasies wat die belange van minderheidsgroepe kan verteenwoordig en aan die proses kan deelneem as ons die kans behoorlik benut. 
Ons het ʼn breë middelgrond wat niks meer vra as ʼn plekkie vir almal onder God se son nie. Ons leef in ʼn globale wêreld wat kennis neem van wat hier ter plaatse gebeur. Sommige  van ons het selfs die vermoë om nuut te begin sou ons so verkies.

Anders as destyds is daar vryheid om jou uit te spreek oor sake sonder vrees vir gevangenisskap of verwydering uit die gemeenskap.

Dinge het radikaal verander. Ons is in ʼn baie beter posisie as wat die mense destyds was.

Selfs as minderheidsgroep is ons nie volledig sonder verweer nie.

Wat ons nou nodig het is mense wat onverskrokke bly glo dat God ʼn doel het met ons hier aan die suidpunt van Afrika, trouens met alle mense ʼn doel het en dat ons mekaar iewers in die middel moet ontmoet. Ons het mekaar nodig. Ons het nodig om saam standpunt in te neem teen die ekstremiste wat hierdie land vir die wolwe wil gooi. Ons het nodig om mekaar in gebrokenheid te omhels en die pad vorentoe saam te soek. Ons het nodig om saam te kniel en ons gemeenskaplike geloof in die drie enige God te bevestig. 

As daar ooit ʼn tyd was wat vir ʼn fyn aanvoeling vra het is dit nou. In die verband is twee sake uiters relevant.

Gister se vonnisoplegging van Vicky Momberg stuur ʼn boodskap dat ons nie langer ongeeerg teenoor mekaar kan optree nie. Rassisme het genoeg verongeluk in ons land. Ons moet nou daarmee deel. Ek vertrou egter dat die waterskeidingsuitspraak en vonnis  konsekwent toegepas sal word want in die Nelson Mandela baai word die burgemeester vandag aan ʼn wantroue mosie onderwerp nie gegrond op prestasie nie maar op grond van blatante rassisme, vooroordeel en haat. Daarvan maak mnr Malema  geen geheim nie. 

My gebed is dat wie ook al vandag in daardie raadsaal sit ʼn duidelike boodskap sal uitstuur.
Ons gaan ons nie laat manipuleer deur die oorlogspraatjies van ʼn aartsopportunis nie.
Ons gaan nie ons toekoms laat verswelg in ʼn kombers van haat nie.

Die lewe is nie eenvoudig nie maar God is met ons op pad. 

Groete

Jannie Pelser

No comments:

Post a Comment