Tuesday, 6 February 2018

’n Gebed-safari

Ses en dertig mense van bykans regoor die wêreld toer tans van Pretoria na Kaapstad om te bid. Amerika, Kanada, Suid-Korea, Uganda, Ethiopië, Tanzanië, Kenia, Suid-Afrika, hulle is almal daar, manne en vroue met ’n gebedslas en ’n gebedsywer vir ons land. Dit vorm deel van ’n internasionale bediening met die naam “Resonate Global Mission” en word jaarliks in ’n ander land van die wêreld onderneem. Volgende jaar is dit Ethiopië en in 2020 Kanada.

Strategiese punte word aangedoen waaronder die Effektebeurs, Uniegebou, Marikana, Soweto, Universiteite, hospitale, skole, monumente, uiteindelik Robben eiland, Kaapse Vlakte en parlement. Ons reis met ses voertuie en bly darem snags oor. Bykans alle beroepe is verteenwoordig en daarmee saam die hele spektrum persoonlikhede. Dit is ‘n safari.

Ontvangs is deurentyd hartlik en ’n mens is beïndruk met die erns waarmee mense die toekoms van ons land in hul harte en gebede hou. Dit is veral die skole en hospitaalpersoneel wat ons gister by aangedoen het wat my aandag getrek het.

Leerlinge het entoesiasties gesing toe ons opdaag en aandagtig geluister na die groepleier, Mike Ribbens, wat self as Amerikaner agt jaar in Nigerië as sendeling gewerk het. Hy woon en werk nou in Suid-Afrika saam met die Twane Leadership Foundation.

Toe die leerlinge gevra is om vir hul personeel te bid het ’n kleinerige dogter begin bid met ’n intensiteit wat ek nog nie beleef het nie. Sy het die hemel sonder twyfel in beweging gebring. Ook by die hospitaal is ons met tipiese Afrika harmonie begroet. Die erns van die mense het getref.
Hoogtepunt was toe ons vir die pasiënte kon bid. Onthou gerus vir Simon in jou gebede. Hy het die gebruik van sy bene verloor a.g.v. een of ander onverklaarbare aanval op sy liggaam. Alhoewel dit besig is om te herstel lê daar nog ʼn lang pad voor. Abraham hoes onophoudelik, bid ook vir hom. Die pasiënte was baie beïndruk met die dat my vennoot van New York was. Darren is net 24 en dit is sy sesde sendinguitreik.
Dankie, vir julle gebede. Vandag is ons in Bloemfontein en môre vertel ek wat ons beleef het. Laatmiddag vertrek ons na Graaff Reinette. Ek is een van die voertuigbestuurders. Bid ook vir ons.



Laat U Koninkryk kom.
Reclaiming hope for South Africa.



No comments:

Post a Comment