Wednesday, 7 February 2018

Gebed verander my


Die gebedsreis het ons gister na Bloemfontein geneem. Daar het ds. De la Harpe, ’n dinamiese en energieke dominee, ons by die Twee Toring Kerk ontmoet en entoesiasties vertel hoedat die gemeente hoop bring in die gemeenskap.
Die gemeente bestaan uit straatbewoners en die wat honger is, word uitgenooi om op ’n daaglikse basis ’n ete te geniet. Die gemeente huisves ’n kliniek waar hulp verkry kan word.

Wat eens 'n statige kerkgebou was, steeds aangrypend mooi, bied nou ’n geestelike tuiste vir mense wat huisloos is en op straat is.
Later ontmoet ek vir Japie, ’n jong seun wat my eie kon wees maar wat iewers langs die pad koers verloor het.

Ons besoek Navel Hill wat ʼn uitnemende uitsig op die stad bied. Die reuse standbeeld van Mnr. Nelson Mandela staar oor die stad uit.
Agter teen ’n hemelhoë seinstruktuur is ’n kruis aangebring. Mnr. Mandela se gebalde vuis, teken van vryheid kry nuwe betekenis teen die agtergrond van die saans verligte kruis.

Dis die besoek aan die Vrouemonument waar hulde gebring word aan nie alleen meer as 26 000 vroue en kinders wat in konsentrasie kampe gesterf het nie, maar vroue en veral kinders wat wêreldwyd vanweë die ongenaakbaarheid van maghebbers omkom. My hart het gebreek toe ’n gedig voorgelees is wat iets van ’n ontwrigte Kongolese kind voorgedra is. Oorweldig deur die oomblik het ek gepleit dat God ons sal vergewe vir wat ons aan kinders doen. Dit is opgevolg deur soortgelyke gebede vir verskeie kontekste regoor die wêreld

Ons besoek aan Bloemfontein was moeilik. Die volle spektrum van onheil broei daar te midde van Godsmanne en -vroue wat hul lewens gee sodat die Koninkryk kan kom
Hoe gee ons elkeen vandag uitdrukking aan ons roeping om ligdraers te wees?

Ons is in Graaff Reinette en dit reën saggies. Vandag gaan ons in vervoering staan oor God se handewerk by die Camdeboo park voordat ons na Sutherland vertrek.

Op die video tree ek in vir ons mense. Jy hoef nie daarmee te identifiseer nie. Dis my gebed oor ‘n verlede wat ons steeds bly inhaal.

Dis die storie van ’n wêreld in die greep van magsbeheptheid en selfgeregtigheid



No comments:

Post a Comment