Jy KAN dit doen!!
Waag dit.
You CAN do it!!
Samsung het ʼn pragtige advertensie waar mense aangemoedig word om die sg. onmoontlike aan te durf en te doen.
Daar kan ʼn verskeidenheid redes waarom ons huiwerig is om te waag. Slegte ervarings in die verlede, afbrekende kritiek, ʼn gebrek aan selfvertroue, vrees, selfsug.
In die laaste episode van 7e laan ( ja ek kyk!) help Willem sy eggenote om dit buite hul woonstel te waag nadat sy ʼn slegte ervaring gehad het. Sy en ʼn paar vriendinne word, onder die indruk dat hulle onderwys in die buiteland gaan gee, slagoffers van menseroof en handel. Dié ervaring het haar vertroue in so mate geskaad dat sy dit doodeenvoudig nie weer wil waag in ʼn konteks wat haar aan gevaar kan blootstel nie. Trane van dankbaarheid vloei oor haar wange as sy dit tog regkry.
Die wyse waarop haar vriendinne, self ook slagoffers en besig met hul eie reis om die gebeure te verwerk haar ondersteun, is prysenswaardig. Ook Willem wat nie opgee met haar nie.
Ouers, onderwysers en vertrouelinge is somtyds onoordeelkundig in die dinge wat hulle mense toesnou. Afbrekende en demoraliserende kritiek het al soveel drome verydel, veral wanneer ʼn persoon nog jonk en onervare is en nie die emosionele en intellektuele volwassenheid het om die negatiewe inligting te verwerk en te verwerp nie.
Ons moet fyn oplet na die dinge wat ons sê dat ons nie mense se toekoms steel voordat hulle behoorlik kans gehad het om dit aan die durf nie.
Nog ʼn rede waarom mense ander afknou en hul ideale en drome verpletter is doodgewone jaloesie. Hulle is daarin geoefen om ander voortdurend van die leer af te skop omdat hul posisie in gedrang mag kom.
Wat by mense “impossible” blyk te wees is “Himpossible” as daar geloofsvertroue is.
Iemand het gesê dat as jou drome jou nie “bang” maak omdat dit so groot is dat jy dit nie in eie krag kan doen nie, dit nie die moeite werd is nie. Drome moet buite jou normale en natuurlike vermoë lê sodat dit, benewens besondere inspanning en opoffering, veral grondige geloofsvertroue van jou vra. Dan gee jy die eer aan God wanneer dit ʼn werklikheid word.
Fil.4:13 Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee
Groete
Jannie Pelser
Rant en Dal Gemeenskapkerk
No comments:
Post a Comment