Monday, 26 February 2018

Dankie Burger!!

Blou Bulle kaptein, Burger Odendaal maak in ʼn radio onderhoud die volgende merkwaardige uitspraak met betrekking tot sy span se kanse in die wedstryd teen die Hurricanes, nou reeds geskiedenis. “As ons hou by die struktuur sal die uitkomste vir hulself sorg”.
Dis Evangelies. Die Bybel sê “soek eers die Koninkryk van God en die ander dinge sal vir hulself sorg”.
Die probleem is dat ons by die uitkomste wil begin en dit maak ons gespanne en vul ons selfs met vrees. Die uitkomste lyk onoorbrugbaar en ons kapasiteit om daarmee te deel eweneens nie genoegsaam nie. In stede om na die Bron van ons krag te gaan begin ons ons eie planne maak en dit is presies daar waar dinge verkeerd loop. God gaan nie ons planne seën nie. Hy gaan ook nie ons eie pogings seën nie omdat dit tot mislukking gedoem is. Die Bybel se vetrekpunt is duidelik..

Efes.6:10 Soek julle krag in die Here en in sy groot mag.Spr.3:5 Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie.

Ps.32:9 Moenie onverstandig wees nie, soos 'n perd of 'n muil wat met 'n stang in die bek beteuel moet word as jy hom wil lei.

Jer. 29:11 Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting!    

Matt. 6:33 Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.

Hou by die struktuur, die uitkomste sal vir hulself sorg. 
Dankie Burger en geluk. 
Sterkte vir die pad vorentoe.

Groete

Jannie Pelser
Rant en Dal Gemeenskapkerk


No comments:

Post a Comment