Friday, 19 January 2018

Ons salueer julle

Suid Afrika is ons onmiddellike konteks en daarom fokus ons in ons gesprek daarop. Sedert Desember het daar heelwat betekenisvolle dinge gebeur, met name die verkiesing van Ceril Ramaphosa as leier van die ANC en later waarskynlik die president van Suid Afrika.

Sy optrede by die Jan. 8 byeenkoms, ook die 106e verjaardag van die ANC, na verneem word die oudste bevrydingsbeweging in Afrika, het soos ʼn vars bries geklink. Meer as een persoon het opgemerk dat dit  goed was om na ʼn voordrag te luister wat duidelik deur homself geskryf is. Die wyse waarop hy sake aan die orde gestel het en dan later daarheen teruggekeer het het getuig van goeie voorbereiding. Passie en egtheid het die voordrag gekenmerk en ʼn mens kon ʼn slag luister na ʼn man wat nie onseker is van waarheen hy op pad is nie.

Uiteraard is en sal almal nie tevrede wees met alles wat gesê en onderneem is nie. Dit is te ene male so dat niemand alles vir almal kan wees nie, mnr Ramaphosa ook nie. Hy moet met ongekende wysheid optree ten einde sy party bymekaar te hou en eerder gestadig as oornag en met mag alles te wil verander. Ek reken mnr Ramaphosa is ʼn slim strateeg wat met die einddoel voor oë versigtig maar tog met waagmoed vorentoe beweeg. Ek dink hy verdien ʼn regverdige kans. Die wyse waarop sommige van ons mense reageer wanneer hy iets se waarmee hulle saamstem nie bekommer my. Ons mense kan te laat wakker skrik. Ons woon in Afrika. As jy wil bly sal jy moet verander en aanpas anders le daar swaar dae voor.

Dat die ander politieke partye voor ʼn groot uitdaging staan is duidelik. Vir geruime tyd het die opposisie sake soos korrupsie en staatskaping, veral die Guptas gebruik om punte in te samel. Tekens is daar dat hierdie sake in die visier is van die ANC en dat daar duidelik iets aan die gebeur is. Berigte van die bevriesing van bates van sommige maatskappye en selfs inhegtenisname van ten minste een Gupta asook ʼn senior politikus doen die rondte. Enige iets is beter as die pynlike ervaring dat ons land en sy bronne aan die hoogste bieder verkoop word. Ons vertrou dat dit nie net retoriek en oë verblindery is nie maar daadwerklike optrede in belang van ʼn gesonde Suid Afrika verteenwoordig.

Dit is ook die 100 verjaardag van mnr Nelson Mandela wat vir baie die simbool van vreedsame naasbestaan sonder vooroordele ens. geword het. Sy leierskap is gekenmerk deur duidelike waardes en dit lyk of daar ʼn nuwe verbintenis gemaak word in die rigting van die Mandela nalatenskap.



Die treinongeluk digby Hennenman het ontstel veral omdat verskeie mense grusaam gesterf het. Die twee jong helde van Hennenman het egter die verbeelding aangegryp. Sonder om bang te wees het die brandende trein en kompartemente genader en babas en kinders uit die hande van getraumatiseerde ouers deur die kompartemente se venster gehaal en na veiligheid gebring. Ook oues is bygestaan. Die voorblaaie van ons koerante het die twee gesiggies vertoon en hulle het ʼn simbool geword van saamwerk te midde van en ten spyte van verskille in belang van ʼn groter saak.

Rome brand en die kerk stry oor klere. Suid Afrika in verskeie opsigte is aan die brand en die mense wat die brand moet bestry en onder bedwang moet bring stry meermale met mekaar. Dit terwyl mense sterf en seerkry. Dit kan mos nie. Mag ons mekaar omhels in ʼn gees van omgee en die olifant in die vertrek met mening aanspreek.

Dit is so dat ons deur baie uitdagings in die oë gestaar word. As ʼn mens kyk na die duisende mense wat by universiteite en kolleges opdaag nav die onbesonne aankondiging van gratis opleiding deur  ʼn vergete president raak ʼn mens angstig. Die gebeure by die Overvaal hoërskool ontstel veral oor die wyse waarop regspraak geminag word wanneer dit sommige mense nie geval nie. Mnr Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys het duidelik ʼn eie agenda en herinner aan heethoofde soos Hlaudi Motsoeneng  en Bathabile Dlamini.  Ons moet egter begrip en empatie hê met duisende kinders wat nie plek in ʼn skool kan vind nie. In stede van verwyte moet gemeenskappe innoverend kyk hoe hulle tydelike maatreëls kan tref totdat die kinders akkommodeer is.

Die optrede van onder andere die EFF by die winkels van H en M terwyl ʼn mens empatie het met die sentimente en vertrekpunte van die swart gemeenskap is totaal onaanvaarbaar en buite verband. As almal in Suid Afrika op dieselfde manier optree elke keer as jy aanstoot neem sal die land in chaos gedompel word. Die enigste verklaring wat ek vind is dat die mense duidelik nie weet wat om met hul tyd te doen nie.

Soos ek gesê het daar is inderdaad baie wat tot ontsteltenis kan aanleiding gee. Terwyl ek gister oggend na Radio Kansel ry  word ek bewus van duisende motors op die pad. Honderd duisende mense is op pad werk toe, nie alleen om ʼn inkomste te genereer nie maar Suid Afrika op koers te bring en te hou.

Dis hulle wat belasting betaal en inisiatief neem.
Dis hulle wat hul gesinne versorg en met liefde voorberei vir die volwasse lewe.
Dis hulle wat hand diep in die sak steek en nood diens waar hulle dit raakloop.
Dis hulle wat vir die land intree en die Here vertrou vir ʼn heilsame toekoms.

Ons laat ons te maklik deur die klein groepie wat die media met sensasionele inligting voed op sleeptou neem terwyl ons die groot, ja by verre die grootste deel van die samelewing, opregte goeie en Godvresende Suid Afrikaners miskyk.

Saam met hulle tienduisende munisipale werkers, veiligheidspersoneel, polisie en gesondheidsorg, om maar ʼn paar te noem.

Terwyl opruiende danspassies uitgevoer word sit die groot meerderheid van Suid Afrika se mense in vergaderinge, agter lessenaars, in verkoopslokale, in die gange van hospitale, op ons paaie, ens.

Dis vir hulle wat ons salueer.
Dis hulle wat Suid Afrika groot maak.
Dis hulle wat ons die toekoms inneem.


Lank lewe Suid Afrika.


No comments:

Post a Comment