Thursday 3 September 2020

Lente in Suid Afrika





Ek moet bely dat ek die afgelope weke al ʼn mismoedigheid ervaar wat op bykans ʼn daaglikse basis toegeneem het. Toegegee, Covid-19 is nie juis iets waaroor ʼn mens opgewonde raak nie en al die regulasies wat daarmee verband hou het dit ook nie makliker gemaak nie. Daar is bemoedigende tekens dat ons die ergste agter ons het en een en elkeen wat meegewerk het van ons owerhede en gesondheidwerkers ander nood personeel ens moet gelukgewens en bedank word. Dit sluit elke verantwoordelike Suid Afrikaner in wat moeite gedoen het om toe te sien dat hulself en ander mense veilig is.


Dit is vroeë dae en niemand moet oorgerus raak nie. Kom ons bly op ons pos soos die Bybel sê, toegerus met die volle wapenrusting van God. Daardie toerusting bestaan essensieel in volle vertroue op God enersyds en verantwoordelikheid en selfdissipline andersyds.


Dit is veral die boodskappe wat van owerheidswee, in besonder ons staatspresident sien en hoor, wat ʼn mens moed gee. Eers was daar die sewe bladsye brief wat aan die adres van die heersende politieke party gerig was waarin die president gesê het die ANC moet pa staan vir die korrupsie in Suid Afrika.

Daarna die belangrike vergadering van die NUK die afgelope naweek en kommer ten spyt, verstaan ek dat die leiersfigure die president se arms hoog gehou het en hul nie laat intimideer het deur die onvriendelike brief wat in naam van ons voormalige staatspresident, mnr. Zuma, aan die president gerig was nie.


Die skrywer en die voormalige president moet nou op hul neuse kyk en aanvaar dat die era van plundering sonder gewete verby is. Mag daadwerklike aksie al hierdie mooi klanke vergesel en mag ons spoedig ʼn gesuiwerde leierskap in Suid Afrika beleef.


Integriteit is uiters duursaam en die bekende spreekwoord vier vingers wys terug is baie waar. Dit het tyd geword vir “fine-tuning” en dit geld vir alle mense. Tyd vir voorgee is verby.


Die lente is amptelik hier alhoewel hy homself nog skuilhou. Tekens van nuwe lewe is hier en daar sigbaar en by ons het ʼn skaam buitjie reën geval.


Ek is nie ʼn wintermens nie. Dit word te vroeg donker en die nuwe dag sukkel om op soggens op te staan. Dit is stelselmatig besig om te verander. Jy kan die lente nie keer nie. Die natuur is so geprogrammeer. Die doodsheid word altyd weer en weer en weer getroef. Die grond bars oop en nuwe lewe spruit uit.


Selfs waar die ergste brand verwoesting gesaai het het die saad onder die grond behoue gebly en stoot dit nuwe lewe na bo. Die bome waarvan jy die takke wou afsaag omdat dit dood gelyk het verras met botsels en blaartjies en piepkleine vrugte. Met die nodige sorg word dit egter ʼn oes wat kleurryk en smaakvol die winkelrakke vol lê.


Nuwe lewe. Die nuwe dag. Dit breek altyd weer aan. Dit is onkeerbaar.


Dit is so met die lewe ook. Ons het onaangename en uitdagende wintertye agter die rug in Suid Afrika. Covid-19 was bykans die laaste strooi. Net toe die vernietigende magte dink dat hulle die oorhand kry breek tekens van lente aan.

God breek weer deur.

Geloof triomfeer.


Ek wil met my hele hart glo dat die lente aangebreek het vir Suid Afrika. Dit hang af wat ons as gewone mense met die seisoen gaan maak. Is ons bereid om uit ons winterslaap op te staan en tekens van hoop te word. Sal ons terugneem wat deur die vyand gesteel is. Sal ons ons vlae en plakkate gereed kry en die strate invaar en luidkeels verklaar, genoeg is genoeg.

Ons leef nie langer met die winter saam nie.

Ons is lente mense, nuwe lewe en ʼn nuwe toekoms.


Daar is geleenthede reg oor Suid Afrika hierdie naweek om standpunt in te neem. (Move One Million)


Die lente behoort net aan die wat klaarspeel met die winter.

Een boom maak ongelukkig nie ʼn vrugteboord nie.

Suid Afrikaners sal moet opstaan as hulle die nuwe wil omhels en sien deurbreek.


Woorde: THEO W. JANDRELL en G.G. CILLIÉ

Musiek: Wysie uit die Alpe; verwerk: G.G. CILLIÉ


Dis heerlike lente, die winter's verby;

weer nooi berg' en klowe vir jou en vir my.

Hol-la-dri-o-ha, hol-la-dri-o.

Hol-la-dri-o-ha, hol-la-dri-o!



Die bergklim is heerlik, dit hou mens gesond.

Die vroe-, vroeë môre het goud in die mond.

Hol-la-dri-o-ha, hol-la-dri-o.

Hol-la-dri-o-ha, hol-la-dri-o!

No comments:

Post a Comment