Thursday 6 August 2020

Die Here sien, hoor en doen


 

Ex. 3:7-10

 

7             Daarna sê die Here: “Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle noodkrete oor die slawedrywers gehoor. Ek het hulle lyding ter harte geneem.

8             Daarom het Ek afgekom om hulle uit die mag van Egipte te bevry en om hulle daarvandaan te laat trek na 'n goeie en uitgestrekte land, 'n land wat oorloop van melk en heuning. Dit is die land van die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete.

9             Die noodkrete van die Israeliete het My bereik, en Ek het ook aanskou hoe Egipte hulle verdruk.

10           Daarom stuur Ek jou na die farao toe sodat jy my volk, die Israeliete, uit Egipte kan bevry.”

 

Hierdie spesifieke gedeelte het nog altyd vir my groot betekenis gehad juis omdat dit God se hart en ingesteldheid jeens ons as mense grafies demonstreer. Veral in die uitdagende tyd waarin ons onsself bevind is dit wonderlik om te hoor dat Hy inderdaad nie op ʼn afstand soos die lied “From a distance” suggereer na ons kyk nie maar intens, reddend, bevrydend en verlossend teenwoordig is.

Die volk Israel verkeer reeds vir eeue onder die slawejuk van Egipte. Daar word van hulle verwag om aan die bouprojekte van Farao deel te hê, nie as vrymense wat hul gawes kan aanwend waar dit lê nie maar as onvry mense, aangedryf waarskynlik deur hartelose slawedrywers, min ondersteuning en aanmoediging en steeds groter verwagting.

As dit blyk dat die volk die slawejuk stylvol dra word die omstandighede waaronder hulle werk en leef nog moeiliker gemaak.

Die volk beklae hulle lot uiteraard by God en sien uit na die dag dat daar uitkoms sal kom.

Op ʼn dag ontmoet Moses die verbondsgod by die brandende braambos. Nuuskierig staan hy nader totdat Hy aangesê word om sy afstand te hou. Hy staan immers op Heilige grond. Dan kom die aangrypende en bemoedigende woorde van ʼn begrypende Vader

•             Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien

•             Ek het hulle noodkrete gehoor

•             Ek het hul lyding ter harte geneem

•             Ek het afgekom om hulle te bevry.

•             Ek breek ʼn nuwe toekoms voor hulle oop.

Dan stuur God die onwillige en huiwerige Moses om met Farao te gaan praat.

Die woorde van ons Hemelvader gryp my in die hart. Hy sien, hoor, neem kennis, voel saam, doen iets, belowe iets beter omdat Hy getrou is aan sy verbondbeloftes en genade.

Ons konteks is tans ewe onhoudbaar. Die hartseer, ontwrigting, pyn en trauma wat Covid-19 bring is ongeëwenaar in ons leeftyd.

Elkeen beleef dit aan eie lyf. Daar is nie ʼn mens wat sy lewe seker is nie. Dit is inderdaad nie aangenaam nie.

Hoor die Woord van die Here.

•             Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien

•             Ek het hulle noodkrete gehoor

•             Ek het hul lyding ter harte geneem

•             Ek het afgekom om hulle te bevry.

•             Ek breek ʼn nuwe toekoms voor hulle oop.

No comments:

Post a Comment