Vrydag 13 September 2019
Jona 3: 4
Jona het die stad ingegaan en 'n dag lank daar rondgestap en toe roep hy: “Nog net veertig dae en Nineve word verwoes!”
5 Die mense van Nineve het toe in God geglo en hulle het 'n dag aangekondig om te vas. Groot en klein het rouklere aangetrek.
6 Die berig het ook by die koning van Nineve uitgekom. Hy het van sy troon af opgestaan en sy koningsklere uitgetrek, rouklere aangetrek en op 'n ashoop gaan sit.
Ek verstaan dat dit nie goeie sosiale media etiek is om mense te vra om ʼn boodskap met ander te deel nie. Hierdie keer egter doen ons dit onbeskaamd en ek glo jou gees sal daarmee getuig.
Ons het nie alleen jou deelname nodig nie maar invloed, konneksies en betrokkenheid.
Die afgelope week of wat kan tereg as een van die mees dramatiese tye in ons jong demokratiese bestaan beskryf word. Zenofobiese aanvalle en die gepaardgaande vernietiging en plundering van eiendom met lewensverlies strek ons nie tot eer nie. Ons word in eie munt terugbetaal deur die dreigende houding wat Afrika state inneem met gepaardgaande boikotte en betogings.
Die ondraaglike hartseer oor die mishandeling en ontberings wat vroue in ons mooi land moet verduur het soos ʼn sweer oopgebars met gepaardgaande protes en geweld.
Ons kinders is selfs by hul skole nie veilig nie en wanneer leerkragte nie meer vertrou kan word met die veiligheid van skoliere nie het ons ʼn nuwe laagtepunt in ons bestaan bereik.
Op alle fronte van ons bestaan word ons gekonfronteer met enorme uitdagings terwyl getuienis van korrupsie en eiebelang ʼn mens verder koud laat.
Het God ons dalk aan die keuses wat ons maak en gepaardgaande gevolge oorgegee?
Wat doen ons om hierdie negatiewe spiraal na onder te ontduik?
Soos ʼn Josafat van ouds moet ons bely ons weet nie wat om te doen nie. Die toekoms van ons kinders en kleinkinders, maar meer as dit, die eer van God en die geloofwaardigheid van gelowiges is op die spel.
Gevolglik voel ons gelei ( is in ʼn proses om met verskeie belanghebbendes te gesels en die gedagte vind oral byval) om volgende Vrydag, 13 September, as ʼn dag van rou af te kondig. #RSA mourns.
Dit is dieselfde woorde wat mnr Ramaphosa gister in sy adres aan die nasie gebruik het.
Ons is in ʼn staat van rou.
Swart (vullis) sakke is geredelik beskikbaar en kos byna niks. Dis ʼn item wat in die meeste huise gevind word. Die gedagte is dat Suid Afrikaners, in sonder gelowiges, volgende Vrydag (13 September) so ʼn sak (sak en as van die Bybelse tyd) oor hul klere aantrek en by die werkplek, skole, sosiale kring of waar ook al opdaag.
Die gebed van ons harte is dat soos by Nineve, ons land en sy mense ernstige introspeksie sal hou en berou vol God se aangesig sal soek maar ook in ʼn gees van versoening na mekaar sal draai.
Die inisiatief kan na gelang van omstandighede aanleiding gee tot verskeie aksies soos mense in eie kring voel.
Swart (vullis) sakke is ʼn vinnige, bekostigbare en visueel sigbare wyse om ons gebrokenheid voor die Here te bring met die versugting dat Hy ons denke sal vernuwe sodat ons kan onderskei wat nou gedoen moet word.
Van vandag af sal daar verskeie boodskappe gestuur word om die saak momentum te gee.
Indien jy in ʼn omgewing is waar iemand se ondersteuning verdere geloofwaardigheid aan hierdie oproep kan verleen sal ons bly wees as dit per epos by ons kan uitkom.
Skakel gerus 011 6652516 en 0836019094
Let asb. op inskrywings op ons tersaaklike facebook bladsy RSA mourns. (“like” die bladsy sodat jy ook daardie inskrywings ontvang)
Met verwagting
Jannie
Organiseerder
No comments:
Post a Comment