Die jaar het reeds ver gevorder en baie van ons voel effe moeg en uitgewas. Dit is asof ons biologiese klok met die jaar gesinkroniseer is en weet dat dit tyd is om tot rus te kom.
Baie van julle gelukkige mense se vakansie beplanning is reeds ver gevorder en die tyd vir lekker rus is nie te ver nie. Die geheim is om skouer aan die wiel te sit en nie nou terug te sit of te verval in self bejammering nie. Ai, ons het die kuns van self bejammering darem vervolmaak, nie waar nie?
So staan ek vanoggend op en voel presies soos ek bo beskrywe het. Ek is nog nie seker wat vakansie vir ons impliseer nie omdat ander helfte ʼn groot funksie net na die September/Oktober reses het. Haar spanningsvlakke sal haar nie toelaat om nou tot rus te kom nie.
Nietemin, diep bewus van die moeë gevoel wat oor my hang stap ek buitentoe om die koerant te gaan haal. Dis deel van my oggend roetine en daarsonder is ek heeltemal deurmekaar en ontwrig.
So sien ek hoedat ʼn man besig is om die vullisdrom wat reeds deur ons bure na buite gebring is deursoek vir plastiekbottels en ander bemarkbare items. Hy loop van huis tot huis en laatmiddag is sy trollie ( met die klein wieletjies) hemelhoog gestapel. Dan begin die lang pad na die herwinningsaanleg waar sy fonds dankbaar vir ʼn paar rand ingeruil word.
Dit is toe dat ek die Here begin dank dat dit nie met dagtaak is nie. Ek is bevoorreg om aanstons in my motor Pretoria toe te reis waar ek ʼn paar Radio Kansel programme in ʼn netjiese ateljee gaan opneem. My rice crispies staan in ʼn bakkie en wag en ek gaan net voor ek ry my koffie beker volmaak vir die lang reis Jakaranda stad toe.
Ek is nogal netjies aangetrek en die water was warm vanoggend.
Is dit nodig dat ek voortborduur?
Moet ons skuldig voel oor die genade wat God aan ons bewys?
Nee, maar dankbaar tot in die hoogste graad.
Here, ek bid vir baie mense wat vandag in die herwinningsbedryf staan.
Skenk genade en seën.
Miskien kan ons help deur ons vullis vooraf te sorteer.
Wie het gesê?
One mans rubbish
Another mans treasure.
KOLOSSENSE 3:15
En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar.
No comments:
Post a Comment