Ek het die afgelope dag of drie verskeie kere gehoor dat die uitdrukking, ons het nie meer tyd nie, gebruik word. Met verwysing na die ekonomie, beleggersvertroue, armoede, werkskepping, opstande en zenofobiese aanvalle is almal dit eens, dit het krities noodsaaklik geword dat hierdie goed aangespreek word.
Alles wat bestaan het ʼn geestelike onderbou. As Christene weet ons dat daar meer op die spel is as dat opstand en geweld tot ʼn einde kom en almal gelukkig leef. Die voorkoms van hierdie dinge is alles ʼn manifestasie van die geestelike stryd waarin ons op aarde betrokke is. Inderdaad, dinge is deurmekaar.
Dit lyk somtyds vir my asof die sg. sekulêre wêreld ʼn beter begrip het van geestelike realiteite as die kerk. Wanneer laas het ek gehoor dat die kerk praat oor die dringendheid van die Suid Afrikaanse konteks. Ons stry altoos oor dieselfde goed terwyl Rome brand. Daarmee wil ek nie te kenne gee dat sekere dinge nie noodsaaklik is om te bespreek nie. Om egter getrou te bly aan die konteks waarbinne God ons geplaas het, is iets anders.
Daar is ʼn kerk op elke straathoek in Suid Afrika. Daar is ʼn bedelaar op elke straathoek in ons dorpe. Daar staan loopneuskinders met plastieksakke om die vullis uit jou motor vir ʼn paar genade sente te verwyder. Ander frustreer jou deur water op jou reeds skoon voorruit te spuit nog voordat jy dit kan keer. Daar is ellende en swaarkry reg rondom ons en ook daar waar mense nie sien of kom nie.
Die kerk hou van vergaderinge. Dik verhandelinge vorm die onderbou van ellelange gesprekke. Die vrou in die amp, die seksuele oriëntasie van mense, saamwoon voor ʼn mens getroud is gespreksonderwerpe.
Hoe bring dit hoop vir kinders wat honger gaan slaap, werklose mense wat opgee met die lewe, straatbewoners en verslaafdes?
Ek probeer nie voorgee dat al my prioriteite in orde is nie, inteendeel. Die Here moet bly werk in hierdie hart.
Die wêreld kan egter nie die agenda vir die kerk voordra nie.
Die kerk moet wakker word.
Die uurglas loop leeg.
ROMEINE 13:11
En dit alles is nodig omdat julle weet hoe laat dit al is. Die uur is reeds daar dat julle uit die slaap moet wakker word, want die tyd van ons finale verlossing is nou nader as toe ons tot die geloof gekom het.
Luther het 500 jaar terug gevra : waar vind ek ʼn genadige God?
Sal die kerk die antwoord wees?
No comments:
Post a Comment