Wednesday 24 July 2019

Beginsels vir ʼn gelukkige lewe - 40


- Nooit alleen nie

Ek het ʼn onrustige nag agter die rug en staan skoon moedeloos skuins na middernag op om ʼn koppie rooibos te maak. Dit gebeur mos maar van tyd tot tyd dat die slaap jou ontwyk.
Ek soek rond in die Bybel, eintlik te moeg om regtig te konsentreer. Dan word my gedagtes gevoer na die teks in Josua 1. Soos alle mense het ek ook uitdagings wat groot en bykans onhanteerbaar lyk.
God is met Moses se assistent besig. Die opdrag is duiselingwekkend. ʼn Vreemde land, omstandighede en uitdagings lê en wag. Dit is inderdaad die land van belofte maar dit beteken nie dat daar angswekkende realiteite wag nie. Die stede is steeds versterk met ondeurdringbare mure daar rondom, die volke wat in die land woon gaan hul grondgebied sekerlik nie sonder ʼn geveg prysgee nie, nuus van die aankomende volk van die Here het hulle waarskynlik reeds bereik en hulle is tot die tande bewapen. Verskeie uitdagings lê dus en wag.
Niemand sal Josua verkwalik as hy effens gespanne is nie. Die onrustigheid is voelbaar in die teks. Dan kom die Opdraggewer, God self deur sy Gees en bemoedig Josua met hierdie merkwaardige woorde – Ek sal jou nie in die steek laat nie, jou nie verlaat nie.
Die woorde het vir my baie troos gebring en met groter rustigheid terug gestuur bed toe.
Die Een wat belowe is in staat om alles te doen en veel meer as waartoe ʼn mens in staat is. Bang wees is verstaanbaar maar in stede van vlug wat normaalweg ons eerste reaksie is word ons opgeroep om tot die stryd toe te tree, gewapen met die volle wapenrusting van die Gees. Die wapens van hierdie wêreld kan nie daarteen weerstand bied nie.
Bedink hierdie woorde vandag
Ek sal jou nie in die steek laat nie.
Aan Hom al die eer.
Ps
Ons het tandekry probleme met ons direkte uitsendings op ons facebook blad maar vertrou dat dit gou uitsorteer sal wees.
Luister vanaand 1900 na Bottomless, ons geselsprogram.
Sondagoggend 1000 Ons kuier saam in die Woord.
Gister se Aktueel het bietjie gehaak maar dit word vandag weer gelaai.
As die programme vir jou bemoedig vertel (tog) ander daarvan.
Liefde in Hom
Toekomsvensterspan.

No comments:

Post a Comment