- Jou eilandbestaan
Op my rekenaarskerm is daar vanoggend so ʼn idilliese prentjie van ʼn klein intieme eilandjie in die middel van die see. Palmbome, sonskyn en ʼn piep klein huisie maak die uitnodiging bykans onweerstaanbaar .
Ek dink baie van ons voel so uitgelewer aan die dinge wat rondom ons gebeur dat ons wens dat ons net kan wegkom van alles af. Die Psalmdigter het ook so gevoel.
Ps. 55 My hart krimp inmekaar in my, doodsangs oorval my,
6 vrees en skrik oorweldig my, my hele liggaam bewe.
7 Ek het gedink: ag, as ek maar vlerke soos 'n duif gehad het, sou ek wegvlieg en 'n woonplek soek;
8 ek sou ver wegvlieg en in die woestyn gaan bly; Sela
9 ek sou haastig probeer wegkom van hierdie onstuimige wind, van hierdie storm af.
Die motivering van hierdie versugting lê daarin dat dinge net te bedreigend, onseker en ontstellend geword het. Die appél wat dit op jou maak is onhanteerbaar, die toekoms is duister en jou krag is net te min. Derhalwe wil jy wegkom van alles.
Ek wonder hoeveel mense vandag net wil wegkom van alles en hunker na die eiland in die middel van die oseaan. Die probleem is dat die grootste uitdaging nie die ekonomie, die politiek van ʼn land, jou problematiese werksomgewing, jou gespanne huweliksverhouding, jou ongedissiplineerde kinders of jou raserige bure is nie. Die groot probleem is jouself.
Jy mag vir ʼn dag of drie uitrus op jou eilandjie en jou verbeel dat jy in die hemel aangekom het net om agter te kom dat die onrus weer aan die broei is hier binne sonder dat jou selfoon lui, epos jou dag kompliseer, mense negatiewe dinge sê en die politiek van die land uitmekaar val.
Die antwoord begin by jouself.
Eilandbestaan, wegvlug en eenkant kom, hoe noodsaaklik ook al, neem jou nie weg van die groot probleem nie. Jyself. Ons wil altoos alles rondom ons regmaak maar ons kry dit nie eers met onsself reg nie.
Die les hierin is dat die nege vingers wat wegwys en die probleem daar anderkant wil posisioneer moet rekening hou met die een wat na jouself wys.
Kinders sanik wanneer dinge nie na hul smaak werk nie. Hulle blameer en wys vingers. Dit is altyd iemand anders.
Groot mense vra wat kan ek doen om dinge beter te maak.
Daar is vandag ʼn koor van stemme wat waarsku dat Suid Afrika op bykans alle terreine op ʼn glybaan ondertoe is. Die prentjie wat geskilder word is somber en dit nie sonder rede nie. Dis sigbaar om elke hoek en draai. Dit is inderdaad genoeg om enige mens te ontsenu.
Die wêreld was eweneens deurmekaar en getraumatiseerd toe Jesus na die aarde gekom het. Ek wonder stellig of daar ooit ʼn tyd was wat as ideaal beskryf kon word. Trouens die Psalmdigter verwys na onrus, weerstand en bedrog op die stadspleine. Ps. 55
10 Ek sien geweld en oproer in die stad;
11 dag en nag maal hulle rond op sy mure; daarbinne is onreg en onheil.
12 Daar heers wanorde in die stad, op sy pleine is daar net verdrukking en bedrog.
Prentjie boeke met lieflike straattonele vertel nie van die hartseer van die mense wat by tafeltjies aansit nie.
Skilderye met dawerende bergspitse vertel nie van die droogte daaronder nie.
Die blou lug bokant ons vertel nie van die gifgasse wat ons bestaan op aarde stelselmatig bedrieg nie.
Idealisme wat nie oorgaan tot aksie nie is onrealisties en niks anders as dagdrome nie. Die ideaal sal ons altyd op aarde ontwyk. Dit beteken nie dat ons nie tekens daarvan kan oprig nie.
Daar word baie gepraat van monumente, ook nuwes wat gebou gaan word.
Dit het ʼn plek.
Wat ons vandag egter nodig het is lewende, lopende, handelende, gelowige, pro-aktiewe, probleemoplossende, hardwerkende, innoverende, Geesgedrewe monumente wat hoop bring vir almal rondom ons.
Die lied sing
Ek sien ʼn nuwe hemel kom
ʼn Aarde nuut en vry
Die see en al wat skei verdwyn
God self kom by ons bly.
Dan weer
God is hier teenwoordig
Laat ons biddend nader
Hier waar ons voor Hom vergader.
No comments:
Post a Comment