Monday 1 July 2019

Beginsels vir ʼn gelukkige lewe - 27




Onder nuwe bestuur


Ek ry gister verby ʼn plaaslike groente en vrugte winkel en sien ʼn groot bord met die woorde -

“Under new management, watch this space”.

Dit het my laat dink aan wat in ʼn mens se lewe gebeur wanneer Jesus ʼn werklikheid word. Jy staan voortaan onder beheer van die Heilige Gees. Hy is nie ʼn manipuleerder nie maar werk gestadig en geduldig terwyl ʼn mens toenemend die karakter van Jesus begin vertoon. Dat daar ʼn verandering kom in ʼn mens se gesindhede, motivering en lewensuitkyk is egter gewis. Immers, die Bybel sê alles het nuut geword. Die ou dinge het verby gegaan.


Ons individuele ervaringe met die Here verskil van mens tot mens.

Sommige van ons het ʼn stewige Christelike fondasie vanwaar ons die lewe bedryf. Sekere strategiese waardes is van kleintyd af in ons vasgelê en ons twyfel nie oor die waarde daarvan nie. Dit is ʼn baie groot voorreg om so groot te word.


Die praktyk leer egter dat daar ʼn groeiende “heidendom” onder selfs eens konserwatiewe en toegewyde gelowiges ontwikkel. Kinders ken nie meer die verhale van die Bybel nie en verstaan min van God se bedoeling met hulle. Wanneer hulle tot geloof kom is dit somtyds meer radikaal as met die wat by wyse van spreke in die kerk grootgeword het.


Die ommeswaai geld egter eweseer vir almal. Iets verander. Dit kan nie anders nie. Christus maak alles nuut. Wantroue maak plek vir selfs kinderlike geloofsvertroue. Wanhoop vir diepgesetelde hoop. Betekenisloosheid word deur ʼn duidelik waarneembare roepingsbesef verplaas. Jou uitkyk op die lewe en die sin daaragter kry Koninkryksperspektief.

Jy is onder nuwe eienaarskap. “New management”.


Het jy bestuur van jou lewe al oorgegee. Dit vorm die basis van lewensgeluk. Daarsonder dobber ʼn mens op die oseaan soos ʼn onbemande bootjie.

Dis eenvoudig. Dis net ʼn gebed, uit die hart en met diepe erns.

“Here, ek gee die bestuur van my lewe aan U oor.

In Jesus se Naam.

Amen”



No comments:

Post a Comment