Tuesday, 28 May 2019

Beginsels vir ʼn gelukkige lewe - 5

-              Staan in verwondering

Spreuke 30:18 18            
Daar is drie dinge, nee, vier wat bo my begrip is, wat ek nie verstaan nie:
19           hoe 'n aasvoël in die lug bly, hoe 'n slang teen 'n rots op seil, hoe 'n skip op die diepsee vaar en hoe die liefde tussen 'n man en 'n meisie werk

Aansluitend by dit wat ons verlede week met mekaar gedeel het (interessant hoe die beginsels tog met mekaar saamhang) dink ons vandag oor verwondering na.

Ons jongste kleinkind is eersdaags ʼn jaar oud. Hy was ( trouens oupa dink so) van die eerste oomblik af in verwondering oor hierdie merkwaardige en wonderlike wêreld. Dit is asof niks sy aandag ontsnap nie. Geen ervaring gaan verlore nie. Iewers begin dit ʼn verwysingsraamwerk vorm aan die hand waarvan hy die wêreld intelligent sal beleef.

Louis Amstrong in daardie legendariese lied “What a wonderful world” besing juis die grootheid van dit alles.
Trees of green, red roses too, and I think what a wonderful world.
Skies of blue, skies of white, brightness of day, darkness of night, and I think what a wonderful world.
So gaan die lied aan.

Ons noem dit verwondering. Dit is die vermoë om lank genoeg by ervaringe stil te staan dat dit jou verbeelding aangryp.

Eintlik is die lewe so ryk aan ervarings dat ʼn mens in ʼn permanente staat van verwondering behoort te leef. Ek verwys na ʼn paar
-              `ʼn Nuwe dag wat aanbreek, sonsopkoms, die nag wat wyk.
-              Die sterre aan die hemel, die uitspansel, die eindelose hemel.
-              Die geboorte van ʼn nuweling
-              Die ervaring van liefde, aanvaarding, omgee en nabyheid
-              Genade

Jy kan gerus by wyse van opmerking ( comment) aandui wat jou verbeelding telkens aangryp.

Die groot vyand van verwondering is vanselfsprekendheid.

“Natuurlik sal die nuwe dag aanbreek, die sterre skyn en God my liefhê”.

Maar daar is niks vanselfsprekend aan hierdie wêreld nie. As God se hand toemaak is dit klaar met ons.

Interessant dat die mooi dinge in die lewe meermale gratis na ons toe kom. Net ʼn bietjie nuuskierige soek daarna. Net anders kyk, waarneem, waardeer.
Dalk rekenskap gee voordat ons gaan slaap oor wat vandág ons verbeelding aangegryp het.


No comments:

Post a Comment