Monday, 29 April 2019

Stop en kyk rondom jou


Ek het die voorreg gehad om met my seuns en skoonseuns ( Zuan, Jurie, JP en Hansie) digby Machadodorp te gaan stap. Dit was ʼn heerlike voorreg en die kilometers het vir, benewens ʼn paar seer spiere en gewrigte, baie opwinding, gesels en grappies gesorg.

Dit is inderdaad ʼn voorreg om gesond genoeg te wees om te kan ervaar wat God so mooi gemaak het.

Terwyl ons langs die sterk vloeiende rivier afloop het ek daaraan gedink dat ek dié ervaring kon gemis het as ek nie die (geringe) opoffering gemaak het nie.
Ek sou wat ek beleef het nie “straataf” kon beleef nie.
Dit was nodig om daadwerklike voorbereidings te tref, tyd daarvoor opsy te sit, te besluit oor my prioriteite en daaraan voorkeur te gee. Die beloning was buite verhouding bevredigend.
Uiteraard is dit God se skepping. (Ps. 8)
Sy handewerk getuig van almag, majesteit, heiligheid en kreatiwiteit.
Die heerlike verskeidenheid plantegroei, rotsformasies en beeldskone hemelruim verkondig sy heerlikheid.
Dit is onafwendbaar dat ʼn mens midde soveel skoonheid jou eie lewe weer in oënskou neem en rekenskap gee of jy nog op koers is.
Daarbenewens was die (her) ontdekking van my mede stappers (so bo aangedui) verfrissend, humoristies en leersaam.
Ek sou dit alles gemis het as ek dit nie doodgewoon “ingepas” het nie.
Wat regtig van waarde is beleef ʼn mens nie “on the go” nie. Die lied sê mos “stop and smell the roses”.
Maak Goddelike ontdekkings bewustelik deel van jou lewe. Waak jaloers daaroor.
Jy is nie onmisbaar nie. Neem die tyd, sê af en toe nee en doen dit wat jou lewe met ewige ervarings verryk.
Eendag aan die anderkant sal ons heerlik saamkuier oor alles wat ons hier gedoen het.
MATTEUS 11:25
Daardie tyd het Jesus gesê: “Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het”.

No comments:

Post a Comment