Thursday, 11 April 2019

As ek dit vir myself gun moet ek dit vir ander ook gun.



Die boek van Pieter-Louis Myburgh, Gangster State: unravelling Ace Magashule oor beweerde korrupte optrede van die sekretaris generaal van die ANC, maak opslae. Presies hoe ongemaklik Ace se ondersteuners oor die inligting is word weerspieël deur die afkeurenswaardige  optrede van  meelopers by die amptelike bekendstelling daarvan in Sandton eergisteraand.

Die onverdraagsaamheid van sommige in ons samelewing is onrusbarend. Die boek se titel is heel gepas. “Gangster state” en verwys na veel meer as mnr. Magashule. Ons word bykans daagliks gekonfronteer met inligting wat verband hou met korrupte optrede van mense vir wie ʼn mens sou moes vertrou. Dit eers daar gelaat.

Suid Afrika is ʼn komplekse samelewing. Om die belange van alle partye te balanseer is ʼn kragtoertjie wat nie gemaklik kom nie. Diensleweringsbetogings soos in Bekkersdal en Rust ter Vaal raak ʼn mens se hart.

Elke volwassene streef na ʼn beter toekoms vir homself en sy gesin.  Daardie moontlikhede is nie op die platteland te vinde nie. Dit laat mense geen ander keuse as om agter die beloftes van die stad aan te trek nie. Mense maak van karige boumateriaal, stukkies sink, hout en plastiek ʼn skuiling wat huis genoem word. Hul beskeie besittings word daar gehou.

Uiteraard is die infrastruktuur nie van so ʼn aard dat dit die steeds groeiende bevolkings in en rondom ons stede kan akkommodeer nie.
Onwettige grondbesetting en plakkery mag nie gedy nie vir oorlopende redes. Dan word strukture sondermeer deur die Rooi miere verwoes en ontstelde inwoners kom laataand tuis net om te vind dat hul skuiling nie meer bestaan nie.
Ander het wat hul besit weggedra.

Tydens die afgelope week se skoonmaak operasie is minstens twee mense dood in gevegte en polisie optrede. Hoe moet ʼn mens dink oor hierdie goed?

Die man wat sy lot beklae doen dit op suiwer Afrikaans. Nie dat een persoon of taal  belangriker is as iemand anders nie maar dit bring mense sommer baie naby aan jou as hulle jou taal praat.

Ook in Bekkersdal treur inwoners oor minder as minimum menswaardige omstandighede. En tog sal die einste mense op 8 Mei hul kruisies trek waar hul weet dit geen verandering aan hul lewensomstandighede gaan maak nie.

Die beloftes en mooi woorde van ons geagte staatspresident hierdie week in Stellenbosch, gerig aan veral wit Suid Afrikaners, boere en jongmense ten spyt. Ons het te veel gesien en gehoor. Ons glo nie meer nie. Dit geld vir alle mense in Suid Afrika. Ons het verandering nodig.

Die politici verveel met hul leë beloftes en skyn optrede. Die meeste gee nie ʼn snars om nie. Dit word ʼn politieke spel waarin verwyte rondgeslinger word waarmee die man op straat niks te doen het nie. Al wat by hulle opbou is frustrasie en woede. Een of ander tyd kook dit ook en gee aanleiding tot vernietiging van eiendom en selfs lewensverlies.

Ek kan uiteraard my in ʼn duisend jaar nie vereenselwig vir die wyse waarop sommige mense in Suid Afrika uitdrukking gee aan hul woede nie maar as ʼn vader, oupa, gesinsman, medemens, Christen kan en verstaan meeste  mense oor die algemeen ʼn plekkie soek wat hy sy eie kan noem. ʼn Tuiskomsplek, noem dit ʼn huis. Iewers waar jou kosbaarhede veilig bewaar kan word, waar jou kinders onder elektriese lig kan studeer en hul selfone kan laai. ʼn Plekkie waar ʼn mens sonder verleentheid ʼn toilet kan besoek en jouself kan reinig. ʼn Ruimte waar jou kinders kan speel en ʼn skool met die fasiliteite wat nodig is dat jou kinders ten minste die sg. vierde industriële revolusie kan tegemoetgaan. Geleenthede om te studeer en te groei.

As ek dit vir myself gun moet ek dit vir ander ook gun.

Ek staan in die ry om oordruppels te koop. `n Skamele houertjie met letterlik druppeltjies van die kosbare vloeistof kos R280. Dit is voorskrifmedisyne en soos dit is betaal my medies nie daarvoor nie. My medies, reeds intreevlak soos dit is kos ʼn asemrowende bedrag vir twee mense. Ek kan darem ʼn hospitaal besoek as ek ernstig siek word en die meeste prosedures word in beginsel gedek.

Ek dink aan mense wat in staatshospitale aangewese is op hulp. Lang rye wat soos slangetjies en leertjies werk. Jy gly maklik af na ʼn ander ry omdat jy in die verkeerde geland het.

Ek dink aan die moedeloosheid as ek in die bank se ry moet wag. Ek het nog nooit by ʼn kliniek gesit en wonder of die dokter gaan opdaag nie. Dit is egter die lot van honderde duisende mense in Suid Africa.
Take it or leave it.
Dis die beste wat daar is.


Die woorde van verlede week se praatjie as ʼn jong student sy gehoor in die Totiussaal in Potchefstroom uitnooi om ʼn slag aan sy kant te kom staan en te beleef wat hy beleef. `ʼn Stukkie empatie is gepas.

Dis ʼn balanseertoertjie soos reeds gestel.

Sal ek eindig soos my kollega altyd sê.

As ek dan fouteer laat dit na die kant van die liefde wees.

Of soos Petersen se.  John 1:14 The Message (MSG)
14 The Word became flesh and blood,
and moved into the neighborhood.
We saw the glory with our own eyes,
the one-of-a-kind glory,
like Father, like Son,
Generous inside and out,
true from start to finish

No comments:

Post a Comment