Wednesday, 5 December 2018

God kan waar ek nie kan nie.



Job is so ʼn bekende figuur uit die ou Testament. Die agtergrond is bekend. Die Here gee die duiwel toestemming om die lewe vir Job baie onaangenaam te maak. Job verwens sy geboortedag en hou vol dat hy niks gedoen het om die swaar te verdien nie. Sy vriende het hul eie verduidelikings. Dit hou meestal verband met sonde as die vernaamste oorsaak vir trauma in die lewe. God se getuienis aangaande Job is iets anders.

JOB 2:3
Die Here vra toe vir die Satan: “En my dienaar Job, het jy hom nou gesien? Sy gelyke kry jy nie op aarde nie: hy is vroom en opreg, hy dien My en vermy die kwaad. Hy het vroom gebly, al het jy My daartoe gebring om hom sonder rede te ruïneer.”

Daar is baie mense wat steeds aan ʼn eenvoudige verduideliking vir elke hartseer in die lewe gereed hou. Soms is dit koud en ongevoelig selfs al word dit goed bedoel. Die lewe is ʼn misterie en ons verstaan so baie dinge nie. Dit sal in die ewigheid aan ons geopenbaar word. 

Wanneer Job met die Here worstel antwoord die Here hom op ʼn besondere wyse. Hy verwys na die natuur en verskeie fasette daarvan en demonstreer Job se onmag deur ʼn hele aantal vrae te vra. Die vrae begin met het jy, weet jy, kan jy, was jy, sou jy, stel jy, slaan jy, gee jy, wil jy, ens. Die antwoord op elkeen van die vrae is nee. Job is nie eers bestand teen die diere van die veld nie, wat dan nog van God?

Job 39
Job het toe vir die Here gesê:
“Ek is nie opgewasse teen U nie. Hoe sou ek U kon antwoord? Ek sal liewer stilbly.
Ek het gepraat, maar ek kon nie 'n antwoord vind nie, ek het weer geprobeer, maar nou sal ek stilbly.”

Job kan nie maar God kan is die les wat hy moet leer. 
Dit bring Job tot stille verwondering en hy besluit om nie verder met God te stry nie.

Job 40:4   som dit mooi op ..       
Het jy die mag wat Ek het?

Ek het vandag nodig om te hoor dat God kan waar ek nie kan nie.
Miskien jy ook? 


Groete, Jannie Pelser

No comments:

Post a Comment