Kry jou hande in die grond
Onlangs was dit nasionale tuin dag. Daar is deesdae ʼn dag vir elke saak en gebeurlikheid onder die son. Dis die eerste keer dat ek hoor van tuin dag, ʼn oulike gedagte.
Tuine en grond en plante en water is sinoniem. Jy kan die een nie sonder die ander indink nie. Met lente in die lug is kwekerye die ene bedrywigheid soos mense plante en saailinge uitsoek om in hul gunsteling hoekies te plant.
Die boodskap van die Bybel begin en eindig in ʼn tuin. Die tuin (paradys) was ʼn ideale ruimte. Adam en Eva se opdrag is om die tuin goed te bestuur sodat die beste daarvan na vore gebring kon word.
Die tuin is ʼn simbool van ongeskonde gemeenskap met God. Niks pla nie. As Adam praat antwoord God en omgekeerd.
Geen belemmering, net die heerlike teenwoordigheid van vrede en rus.
Geen siekte, pyn, nood, trauma, seer en teleurstelling nie.
Waar Adam plant groei dit welig. As hy oes staan hy verbaas met die opbrengs.
Dis hemel op aarde. God sê daarvan dat dit goed is.
Hy is tevrede dat sy raadsplan, ʼn verteenwoordiger op aarde vir Hom, beslag gekry het.
Dinge loop egter sleg verkeerd in die paradys. Die vrede word wreed versteur. Een van die bome is taboe. Dit verteenwoordig alles wat ʼn mens nie op aarde wil hê nie. Dit dwarsboom God se bedoeling dat sy kinders in harmonie met hulself, ander en veral Hom sal lewe. Die res is geskiedenis. Die mens word uit die tuin verdryf in die wildernis van gebrokenheid.
Wat hy plant word deur onkruid verdring.
As hy oes is dit met moeite.
Die water droog op en die grond raak dor en uitgeput.
Dis so anders as God bedoel het.
Daar is nog ʼn tuin in die Bybel. Die tuin staan bekend as Getsemane. Dis ʼn tuin van angs en vertwyfeling. Daar worstel die Seun van die mens. “Vader as dit kan laat hierdie beker by my verbygaan. Laat U wil geskied”.
God kan die tuin nie los soos dit verword het nie. God se oorspronklike bedoeling met die tuin en die mens daarin moet herstel word.
Water en bloed stroom uit die sy van sy Seun wanneer die volmaakte offer gebring word.
Uiteindelik roep Hy uit “dit is volbring”.
God herstel sy tuin.
Openbaring het ʼn beeld van die herstelde tuin. Open.2:7 "Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê: Aan hom wat
oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe wat binne-in die paradys van God is."
Ons kan op grond van die verlossing in Christus Jesus ons pad terug na die tuin toe vind.
Ons neem ons taak met nuwe ywer op. Ons plant en saai en oes en gee water. Somtyds sukkel ons om die elemente te hanteer.
Die eerste tekens van herstel is egter reeds daar. Ons sien hoe die aarde gestadig terugkeer na God se aanvanklike bedoeling.
Eendag sal dit in volheid aan en deurbreek.
Groete
No comments:
Post a Comment