Friday, 12 October 2018

Die waarheid en niks anders nie


Dit was ʼn besondere week met ontstellende verwikkelinge enersyds en tog is daar dalk ʼn sin in die gebeure.
Die aanvanklike getuienis van die eertydse minister van finansies minister Nhlanhla Nene was dat hy die Guptas as’t ware in die gange van die lewe raakgeloop het sonder dat daar betekenisvolle interaksie was. Ongelukkig het dit toe geblyk dat hy verskeie kere by die veelbesproke Guptas aan huis was en ʼn mens kan net wonder wat daar bespreek is.
Daar is allerweë waardering vir die bydrae wat mnr Nene gemaak het en dat hy hom nie deur mnr Zuma of enige iemand anders laat beïnvloed het nie. Tog blyk dit dat sy seun iewers onregmatig bevoordeel is in ʼn transaksie toe hy, mnr Nene, in ʼn posisie van invloed was.
Die nadraai van die gebeure is nou reeds bekend. Hy het sy bedanking laat dien en die is aanvaar. Die posisie van minister van Finansies word nou deur die vaardige en bekwame Tito Mboweni wie se geloofwaardigheid en integriteit hom vooruitloop, beklee. Wêreldmarkte reageer gunstig en politieke partye is klaarblyklik deur die bank tevrede met die aanstelling. Dit gebeur selde, indien ooit.
Prominente rolspelers het hul waardering uitgespreek dat mnr Nene die eerbare ding gedoen het, nl. om te bedank. Daar is ander ministers wat uit sy voorbeeld kan leer. Ongelukkig is hy een uit ʼn duisend. Die ander ministers oor wie se koppe daar wolke van wantroue hang klou soos nete aan ʼn kombers. Niks gaan hulle beweeg totdat die wêreld nie regtig warm gemaak word nie. Selfs dan beproef hulle na voorbeeld van hul mentor mnr Zuma almal se geduld en hofsaak na hof , uitstel na uitstel volg.
Die waarheid is somtyds ongemaklik. Wanneer jou persoonlike aansien en integriteit op die spel is is dit uitdagend om konsekwent die waarheid te praat. Die probleem is dat die leuen ʼn ongenaakbare baas is om voor die werk. Hy is onsimpatiek en verwag dat jy volhou met dit waarmee jy begin het.
Stelselmatig trek die net al stywer om jou totdat jy gedwing word om met die sak patats vorendag te kom. Die ou mense het altyd gesê die waarheid het ʼn manier om uit te kom. Waarheid, soos lig, kan nie onder ʼn emmer weggesteek word nie. Dit moet skyn. God is ʼn God van waarheid en die leuen kan nie in sy teenwoordigheid bly voortbestaan nie.
Mark 4:22 21Hy het vir hulle gesê: “'n Lamp kom mos nie onder 'n emmer of onder 'n bed nie? Is dit nie bedoel om op 'n staander gesit te word nie? 22Daar is geen geheim nie, of dit moet openbaar gemaak word; en daar word niks geheim gehou nie, of dit moet aan die lig kom. 23As iemand ore het en kan hoor, moet hy luister!”
Ek wonder hoeveel van ons sal die toets van die waarheid konsekwent slaag. Dis een ding om na die invloedrykes te kyk en hulle te veroordeel. Gewoonlik is miljoene rande ter sprake en ons speel nie in daardie liga nie. Maar daar is nie klein en groot leuens nie.
Die Bybel sê laat jou ja ja wees en jou nee, nee. Wat meer as dit is is van die duiwel.
Die waarheid slaag net by 100%. Alles minder as volpunte, druip.

No comments:

Post a Comment