Thursday, 20 September 2018

Wat leef ʼn jou oë?


Die Bokke het die All Blacks, teen alle verwagting in, verlede naweek in Wellington geklop. In vandag se Beeld is daar ʼn heerlike agterblad berig oor die sege. Daarvolgens sou Brendon Venter, eertydse Springbok senter, reeds vóór die tyd in die Nieu- Seelandse media voorspel dat hy glo dat die Bokke met die All Blacks kan afteken.
As motivering vertel hy dat hy verlede jaar, nadat die Bokke met een punt in die Kaapstadtoets teen dié wêreldleier verloor het, in die kleedkamer met die span gesels het. Daar het hy “iets” in hul oë gesien “Ek het iets in die oë van die spelers gesien wat my vertel het ʼn oorwinning in Wellington was nie blote wensdenkery nie”
Die Beeld opskrif verwoord dit so
“Gety draai in die Kaap
In hul oë was geloof”.
Ons leef te midde van vele persoonlike en ander uitdagings. Misdaadstatistieke is een van die ontstellende werklikhede waarmee ons moet rekening hou. Elke dag verdiep die raaisel van presies hoe naby Suid Afrika aan totale anargie gedraai het met die onversadigbare selfsug van eertydse leiers. Alhoewel die dinge nou op die lappe kom kan die huidige regerende party nie nou hul kop in ongeloof wegdraai nie. Hulle het geweet en die kapokhaantjie ( Zuma) telkens in die parlement en media verdedig.
Hoe dit ook al sy, ons glo dat die gety draai. Ons glo dat daar ʼn nuwe dag vir Suid Afrika beskore is.
Mag dit wees dat daar ʼn flikkering van hoop in ons oë te bespeur is.
Die All Blacks het sedert 2009 en in 52 tuistoetse slegs een keer verloor.
Hoe het die Bokke dit verlede naweek reggekry?
In hul oë was geloof.
Groete, Jannie Pelser

No comments:

Post a Comment